Barbados word republiek

Prins Charles aan die woord tydens die seremonie terwyl Barbados se eerste president, dame Sandra Mason (regs), luister.  (Foto: Twitter)

Die Karibiese eiland van Barbados het hom tot die wêreld se jongste republiek verklaar en oornag alle bande met die Britse troon verbreek.

Koningin Elizabeth II is as deel van die geskiedkundige oorgang as staatshoof van Barbados verwyder om plek te maak vir die land se eerste president, dame Sandra Mason.

“Die Republiek Barbados het op sy nooiensvaart vertrek,” het Mason Dinsdagaand in haar inhuldigingstoespraak gesê.

“Ons land moet groot drome droom en veg om dit te verwesenlik,” het die voormalige goewerneur-generaal tydens ’n seremonie in die hoofstad, Bridgetown, gesê. Brittanje se prins Charles het die seremonie bygewoon.

Die nuwe era vir Barbados bring ’n einde aan Brittanje se eeueoue invloed op dié land. Dit sluit in meer as 200 jaar van slawerny tot 1834. Prins Charles het dié teer saak tydens die oorhandiging aangeroer.

“Vanaf die donkerste dae van ons verlede en die verskriklike gruweldaad van slawerny wat vir ewig ons geskiedenis vlek, het die mense van hierdie eiland vooruitgegaan met buitengewone vasberadenheid,” het die Britse troonopvolger gesê.

Die aandklokreël is Dinsdagaand opgehef om die mense van Barbados toe te laat om die feesviering te geniet. Dit het groot vuurwerkvertonings en beeldprojeksies by verskeie plekke oor die land ingesluit.

Die “Pride of Nationhood”-seremonie was egter gesluit vir die algemene publiek. Barbados se bekendste burger, die sangeres Rihanna, het wel dié seremonie – kompleet met militêre parades, ’n berede erewag en geweersaluut – bygewoon en sy is tot ’n nasionale held van Barbados verklaar.

“Mag jy voortgaan om soos ’n diamant te skitter en eer aan jou nasie te bring,” het Mia Mottley, die eerste minister, aan Rihanna gesê.

Barbados, bekend vir sy idilliese strande en liefde vir krieket, het in 1966 onafhanklikheid van Brittanje verkry.

Mason is in Oktober – ’n jaar ná Mottley aangekondig het dat die land sy koloniale verlede “ten volle” gaan agterlaat – tot die eerste president van Barbados verkies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lesly ·

Moet nie vergeet om te noem dat China pas $500 miljoen bele het in Barbados nie. Die shinese koop nou die Karibiese eiland ook. Slegte nuus vir die VSA. Biden slaap te lekker om te sien wat besig is om te gebeur

Johann ·

Whahahahhaaaaa…kyk MOOI na die foto????? Nie geweet Barbados mans het sulke lang arms nie??????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.