‘Barbenheimer’ oorheers waarskynlik Golden Globes

Margot Robbie en Ryan Gosling tydens “Barbie” se wêreldpremière. (Foto: Michael Tran/AFP)

Barbie en Oppenheimer – twee van die trefferflieks wat die loket vanjaar oorheers het en die inspirasie vir talle nuwe internetmemes was, sal na verwagting vanjaar Hollywood se Golden Globe-benoemings oorheers.

Die benoemings word Maandag bekend gemaak.

Dié rolprente – wat wêrelde van mekaar verwyder en ʼn hoogs onwaarskynlike paartjie is – is sedert hul bekendstelling “Barbenheimer” gedoop nadat dit op dieselfde dag in teaters vrygestel is.

Barbie, ʼn lewendige, feministiese satire oor die allesoorwinnende reeks plastiekpoppe, was 2023 se winsgewendste fliek en het meer as $1,4 miljard (meer as R26 miljard) by die wêreldwye loket verdien. Die fliek se sterre, Margot Robbie en Ryan Gosling, asook die skrywer en regisseur, Greta Gerwig, sal waarskynlik groot erkenning vir hul werk kry.

Oppenheimer, Christopher Nolan se hoogs aangeskrewe drama oor die uitvinder van die kernbom, het ook uiters goed gevaar en ʼn merkwaardige $950 miljoen (meer as R18 miljard) by die loket wêreldwyd verdien.

Cillian Murphy in ‘Oppenheimer’. (Foto: IMDb)

Benoemings sal na verwagting aan akteurs Cillian Murphy en Robert Downey jr., asook Nolan toegeken word.

Organiseerders van die Globes hoop dat die opwinding en geraas rakende “Barbenheimer”, asook ander gewilde rolprente soos Killers of the Flower Moon en Poor Things die omstredenheid wat die afgelope ruk aan die toekenningsgeleentheid kleef, verskuif – veral noudat ʼn splinternuwe baadjie aangetrek is.

Die Golden Globes het onder skerp kritiek deurgeloop nadat ʼn ondersoekende artikel in die Los Angeles Times in 2021 onthul het dat die geleentheid se stemliggaam, die Hollywood Foreign Press Association (HFPA), geen swart lede het nie.

Die HFPA is sedertdien net meer onder die vergrootglas geplaas terwyl beskuldigings en bewerings van amateurisme en korrupsie ook aan die groot klok gehang is.

Vroeër vanjaar is die Globes se bates en handelsmerke deur ʼn nuwe groep private beleggers, onder wie die Amerikaanse miljardêr Todd Boehly, oorgekoop en vernuwe, en die HFPA is ontbind.

Voormalige HFPA-lede in Hollywood word nou verbied om enige geskenke te aanvaar, en sal ʼn salaris ontvang om vir hul gunstelingflieks en voorkeurprogramme te stem, terwyl meer as 200 mense sonder betaling by die kieserspaneel gevoeg is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Juanita ·

Ek verstaan glad nie die ophef oor die Barbie fliek nie. Dit was terleurstellend.

sopbeen ·

Dankie Juanita. Ek stem saam met jou. Dit is die grootste oeps van die jaar.

A ·

Ek kannie wag om te hoor van mense wat nie een van die twee flieks gekyk het nie, se opinies.

Pieter ·

Stem, vir my was dit ook vreeslik boring. Ek dink nie eers ek het dit klaar gekyk nie…

piet ·

Ek sal die 2 flieks moet kyk om ‘n opinie te kan lewer. Dit sal egter uiters goed moet wees voor ek ‘n regmerkie daarvoor gee want flieks is nie eintlik my ding nie, ek kyk eerder tv reekse. Breaking Bad was byvoorbeeld beter as enige fliek wat ek ooit gesien het. Daar is meer tyd om ‘n storie behoorlik te ontwikkel en te vertel in ‘n reeks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.