Barcelona: Bestuurder van paneelwa steeds soek

‘n Beseerde persoon word behandel in Barcelona, Spanje (17 Augustus 2017) Foto: AP Photo/Oriol Duran

Die Spaanse polisie het Saterdagoggend bevestig die bestuurder van die paneelwa wat vroeër vandeesweek in ʼn terreuraanval in Barcelona in ʼn skare ingeploeg en minstens 13 mense se dood veroorsaak het, is steeds op vrye voet.

Dit volg nadat ʼn derde verdagte Saterdagoggend vroeg in hegtenis geneem is.

ʼn Grootskaalse soektog na Moussa Oukabir (18) is Vrydag van stapel gestuur nadat die polisie hom as die bestuurder van die paneelwa geïdentifiseer het. Buiten vir die 13 sterftes, is meer as 100 ander in die voorval beseer.

In ’n tweede voorval het die Spaanse polisie Vrydagoggend vroeg gesê vyf persone wat vermoedelik betrokke was in ʼn beweerde terreuraanval in Cambrils is doodgeskiet, slegs ure ná dié voorval in Barcelona.

Sewe persone, insluitend een polisiebeampte, is beseer tydens die voorval in Cambrils, 120 km suid van Barcelona. Plaaslike media berig die aanvallers het ook probeer om met ʼn voertuig in voetgangers vas te ry toe polisiebeamptes op hulle losgebrand het. Volgens bomkenners het die verdagtes vals springstoftoestelle gedra.

Die Katalaanse polisie het gesê hulle glo die twee aanvalle, tesame met ʼn ontploffing Woensdagaand in Alcanar, 200 km suid van Barcelona, waartydens een persoon dood is en ʼn huis ineengestort het, hou verband met mekaar.

Die polisie in Cambrills het ontken dat Oukabir een van die vyf persone is wat vroeër in Cambrils deur die polisie doodgeskiet is. Die polisie vrees egter nou dat hy moontlik na Frankryk mag vlug.

Die Islamitiese Staat-terreurgroep het deur sy geaffilieerde Amaq-nuusagentskap gesê sy “soldate” is verantwoordelik vir die eerste aanval in Las Ramblas, ʼn gewilde toeristebestemming in Barcelona.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jaco ·

net vir n toeristevisum moes ek amper alles van my hede, verlede en toekoms duidelik uitspel op die aansoekvorm. Eks verbaas dat my skoengrootte nie ook gevra is nie. Ek al was die visum toe amper R1500 later wel in my paspoort gestempel, is die helfte van die intensiewe vrae op die aansoekvorm weer aan my gevra deur paspoortbeheer by my aankoms in Europa.
So nou wonder ek maar net: as daar sulke intensiewe ondervraging is vir n doodonskuldige ou wat net in Europa wil toer, HOE het hierdie bomplanters dan so maklik daar ingekom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.