Barty laat Aussie-vreugdevure brand

Ashleigh Barty is die Australiese Ope-kampioen. Foto: Paul Crock/AFP.

Vanaand luister elke patriotiese Australiër waarskynlik tot die vroeë oggendure kliphard na Waltzing Matilda (of iets soortgelyks).

Want Ashleigh Barty het sopas die eerste Australiese vrouetennisspeler in 44 jaar geword om met die Grand Slam-silwerware in Melbourne weg te stap.

Die topgekeurde speler moes ’n agterstand van 5-1 in die tweede stel teen die VSA se Danielle Collins uitwis om uiteindelik met 6-3 en 7-6 te wen.

Die TV-kameras het gereeld op die Gladiator-akteur Russell Crowe tussen die toeskouers gefokus en die atmosfeer by die Rod Laver-baan moes omtrent soos die Kolosseum vir Collins gevoel het: Terwyl enige van Barty se houe staande toegejuig is, moes die Amerikaner vir elke punt baklei.

Ja, sy kan ’n bal deksels hard terugslaan. Maar wat doen ’n mens as Barty se afslane meer akkuraat as ’n Google Maps-aanwysing is en teen 180 km/h afgevuur word?

Tog het Collins haar beste tennis in die tweede stel gespeel en sommer haar eie kragspel met ’n kreet of twee gevier wanneer die toeskouers tjoepstil toegekyk het.

Jy hoef egter nie ’n Nostradamus te wees om te voorspel dat Barty sou terugveg nie. En met die toeskouers wat haar luidkeels aanmoedig, het sy ’n rits agtereenvolgende potte gewen om ’n valbylstryd af te dwing; wat sy toe ook sommer terstond gewen het.

“Die toeskouers se ondersteuning was ongelooflik. Ek dink dit is die meeste pret wat ek nog op ’n tennisbaan gehad het want julle het my aangemoedig om my beste te speel,” het Barty met die trofee in haar hand gesê.

“Hierdie titel is ’n droom wat waar geword het. Ek is trots om ’n Aussie te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.