Basketbalster Kobe Bryant, 8 ander sterf in heli-ongeluk

Kobe Bryant (Foto: Keith Allison van Hanover, MD, USA via Wikimedia Commons)

Die afgetrede basketballegende Kobe Bryant (41) is Sondag in Los Angeles in ʼn helikopterongeluk oorlede wat ook die lewens van agt ander persone geëis het.

Bryant se 13-jarige tienerdogter, Gianna, is ook in die ongeluk oorlede. Hulle was op pad na ʼn basketbalwedstryd. Die plaaslike sheriff se kantoor het gesê nege persone was aan boord die helikopter wat in Calabasas neergestort het.

Die burgemeester van Los Angeles en die goewerneur van Kalifornië het saam met die NBA Bryant se afsterwe bevestig.

Bryant het in 2016 uitgetree en is vierde op die liga se lys van spelers wat die meeste punte ooit aangeteken het.

ʼn Voormalige kollegebasketbal-afrigter, John Altobelli, sy vrou en dogter was ook in die helikopter.

ʼn Ondersoek na die ongeluk sal na die instandhoudingsrekords, vlieënier en bemanning op die helikopter kyk, het Jennifer Homendy, van die nasionale vervoerveiligheidsraad, tydens ʼn perskonferensie gesê.

Ondersteuners het intussen buite die Staples Center, die tuiste van die LA Lakers, bymekaargekom. Bryant was byna 20 jaar lank by die LA Lakers. Hy is twee keer as die mees waardevolle speler aangewys tydens die NBA Finals en het twee goue medaljes by die Olimpiese Spele verower (2008 en 2012).

Sportverslaggewers was duidelik ontsteld toe hulle die nuus oor sy afsterwe moes bekend maak.

Bryant en sy vrou Vanessa het vier kinders gehad. Die jongste is nog ʼn baba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.