Dit lyk of LG Electronics hom glad nie laat stuit deur die Covid-19-pandemie nie, maar eerder die geleentheid aangryp om nog ʼn innoverende uitvindsel bekend te stel. Hierdie keer is dit ʼn battery-aangedrewe gesigmasker.
Die maatskappy se nuwe uitvindsel staan bekend as die PuriCare- draagbare lugsuiweraar en bestaan uit ingeboude waaiers en filters wat soortgelyk is aan LG se lugsuiweraars wat in huise geïnstalleer word.
“Danksy die jongste vooruitgang van LG met betrekking tot lugsuiwering en hoëprestasie- vervangbare filters kan die PuriCare- draagbare lugsuiweraar skoon lug binnens- en buitenshuis lewer,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê.
Luidens die verklaring asem gebruikers van dié masker skoon en gefiltreerde lug in deur middel van die masker se dubbele waaiers en die gepatenteerde respiratoriese sensor. Dít terwyl die respiratoriese sensor die siklus en volume van die gebruiker se asemhaling waarneem en die dubbele driespoedwaaiers daarvolgens aanpas.
“Die waaiers versnel outomaties om luginname (inaseming) te bevorder en verlangsaam dan om uitasemingsweerstand te verminder. Dié hele proses laat asemhaling sonder inspanning verloop.”
Volgens LG pas die masker boonop gemaklik dog ferm op die gebruiker se gesig om luglekkasies rondom die neus en ken te verminder. “Die ontwerp maak dit ook moontlik om [die masker] vir ure aaneen gemaklik te dra.”
Luidens die verklaring kan die masker wanneer dit volgelaai is vir agt uur op die lae verstelling en twee uur op die hoë verstelling gebruik word. Die masker kom ook in ʼn houer wat help om higiëne tussen gebruiksessies te handhaaf.
“Die houer is toegerus met UV-LED-ligte wat skadelike kieme doodmaak en selfs die masker laai, asook ʼn kennisgewing na LG se ThinQ-app stuur wanneer die filters vervang moet word.”
Die maskers se filters en oorlussies is ook vervangbaar en herwinbaar.
Die PuriCare- draagbare lugsuiweraar sal teen die vierde kwartaal in uitgesoekte markte beskikbaar wees.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
13 Kommentare
Teen watter prys
Ek dog dit gaan my jonger laat lyk.
Hmmm. Wou nog altyd een gehad het…
LG moet ook n verkoeler inbou om te verseker dat die sneeuvlokkies wat dit gaan dra, nie smelt nie.
Gesonde mense dra maskers – om onderdanigheid te toon, angs te skep wat immuniteit aftakel, maskervervaardigers se sak te pas en die wêreld met nog afval te besoedel.