BBC-joernalis vra om verskoning oor Diana-onderhoud

Prinses Diana verlaat op 14 November 1992 ‘n boekwinkel in Parys, Frankryk. (Foto: Vincent Amalvy/AFP)

Martin Bashir, die BBC-joernalis wat prinses Diana om die bos gelei het om aan ʼn opspraakwekkende onderhoud deel te neem, het Sondag om verskoning gevra aan prinse William en Harry. Hy sê bewerings dat sy optrede met haar afsterwe verbind kan word, is “onredelik”.

ʼn Verslag deur afgetrede senior regter John Dyson, wat Donderdag gepubliseer is, het bevind dat Bashir vervalste bankstate gebruik het om dit te laat blyk dat sommige van Diana se naaste assistente deur sekuriteitsdienste betaal is om haar dop te hou.

Bashir (58) het dit aan Diana se broer Charles Spencer gewys sodat hy ʼn ontmoeting tussen hom en Diana kon reël en sodat hy haar vertroue kon inwin.

Bashir het aan die Sunday Times gesê hy is “baie jammer” vir Diana se seuns prins William en prins Harry.

“Ek wou Diana nooit op enige manier seergemaak het nie en ek glo nie ons het nie,” het hy aan die koerant gesê.

William het egter gesê Bashir se optrede en die onderhoud het “ʼn groot bydrae” gehad tot die verbrokkeling van sy ouers se verhouding en dit het “beduidend bygedra tot haar vrees, paranoia en isolasie” in haar laaste jare.

In sy eie verklaring het Harry gesê die bedrieglike praktyke het ʼn rol gespeel in sy ma se afsterwe. “Die rimpel-effek van ʼn kultuur van uitbuiting en onetiese praktyke het uiteindelik haar lewe geëis,” het hy gesê.

Diana is in 1997 in die ouderdom van 36 oorlede in ʼn motorongeluk in Parys.

Bashir verwerp die beskuldigings. “Ek dink nie ek kan verantwoordelik gehou word vir die talle ander dinge wat in haar lewe aan die gang was nie, of die ingewikkelde kwessies rondom daardie besluite nie. Bewerings dat ek alleen verantwoordelik is, is onregverdig en onbillik,” het hy aan die koerant gesê.

Hy voer aan die 1995-onderhoud het op Diana se voorwaardes plaasgevind en hulle het vriende gebly ná dit uitgesaai is met ʼn kykerstal van ongeveer 22,8 miljoen.

“My gesin en ek was lief vir haar,” het hy gesê en onthul dat Diana Bashir se vrou en pasgebore kind in die hospitaal besoek het en dat die prinses ʼn verjaarsdagpartytjie vir sy oudste kind gereël het by Kensington-paleis.

Bashir sê hy het berou dat hy vervalste dokumente vir Diana se broer gewys het, maar dit het “geen impak” gehad op die onthullings tydens die onderhoud nie.

Dit is welbekend dat Diana tydens die onderhoud gesê het daar was “drie mense in haar huwelik” – sy, Charles en sy minnares en nou vrou, Camilla Parker-Bowles. Sy het ook bely dat sy ʼn buite-egtelike verhouding gehad het.

Bashir was in daardie stadium nie baie bekend nie, maar het daarna ʼn hoëprofielloopbaan op Amerikaanse televisienetwerke geniet en onderhoude gevoer met sterre soos Michael Jackson. Die popsanger se familie blameer Bashir ook vir sy afsterwe en sê die gevolge van die onderhoud het daartoe gelei dat hy al hoe meer van dwelms afhanklik was.

Bashir het as godsdiens-regisseur vir die BBC gewerk totdat hy verlede week, glo weens sy gesondheid, bedank het. Dit was net ure voor Dyson se verslag aan BBC-base oorhandig is.

Tony Hall, voormalige hoof van die BBC, wie se 1996-ondersoek na Bashir se bedrieëry as “absoluut ondoeltreffend” verklaar is deur Dyson, het Saterdag as voorsitter van Engeland se National Gallery bedank.

Die regering sal volgende jaar BBC se finansiering en bestuur hersien en Priti Patel, die minister van binnelandse sake, het Sondag gesê dit is “ʼn baie baie belangrike oomblik”. “Daar is geen twyfel nie dat vertroue ondermyn is en nou is dit tyd dat die BBC absoluut nadink oor die bevindings van die verslag sodat daardie vertroue herbou kan word,” het sy aan Sky News gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Bietjie laat is dit nie…hoeverl jare later

Pieter

Belaglik, soveel jare later. Beweeg aan, maar is seker moeilik vir die Engelse. In 1899 het hulle nog gesê Remember Amajuba.

Yvonne

To litte to late….baie ellende veroorsaak

Charl

Spyt is ‘n goeie ding, net jammer hy kom bietjie (jare !) laat.

Anthony

Ek het beide onderhoude met Diana & Michael Jackson gesien. Hy was uit om hul vertroue te wen en dan vir die wolwe te gooi. Was alles net vir sy eie roem & geld.