Beamptes word ondersoek ná Uvalde-skoolskietery

Gemeenskapslede van Uvalde in Texas sit blomme neer vir die slagoffers wat tydens die skietery omgekom het (Foto: Michael Santiago, AFP)

Vyf beamptes van die departement van openbare veiligheid (DPS) in Texas word nou ondersoek in verband met hul reaksie op die massaskietery by die Robb Elementary School in Uvalde waarin 19 kinders en twee onderwysers dood is.

Dié stappe is Dinsdag aangekondig, op dieselfde dag wat leerders vir die eerste keer sedert die aanval skool toe teruggekeer het. Die skool het ook na ʼn nuwe perseel sowat een kilometer verder verskuif.

Volgens die DPS is die vyf beamptes na die staatskantoor van die inspekteur-generaal verwys vir ʼn “formele ondersoek na hul optrede daardie dag”. Dié beamptes is nie geïdentifiseer nie.

Maroela Media het vroeër berig dat die distrikpolisiehoof, Pete Arredondo, verlede maand reeds die trekpas weens die polisie se trae optrede gekry het.

Twee van die betrokke vyf beamptes is ook reeds sonder betaling geskors terwyl die ondersoek voortduur.

Die DPS het Dinsdag ook ’n interne werknemermemo vrygestel wat in Julie deur DPS-direkteur Steven McCraw uitgereik is.

Daarin het McCraw geskryf dat –  in reaksie op die Uvalde-skietery –  dié departement ’n “toevoeging” gemaak het tot dit wat bekendstaan ​​as die Advanced Law Enforcement Rapid Response Training (ALERRT)-leerstelling.

ALERTT is ’n program wat die staat gebruik om sy beamptes op te lei hoe om op aktiewe skietsituasies te reageer. Met dié toevoeging en program hoop die DPS om behoorlike opleiding en riglyne aan beamptes te bied wat op aktiewe skietvoorvalle by skole reageer – onder meer om die aanvaller suksesvol te “neutraliseer”.

McGraw het die reaksie op die Uvalde-skietery in Junie vanjaar as ʼn “gruwelooslike mislukking” beskryf. Luidens ’n uitgebreide verslag oor die skietery wat in Julie deur ’n spesiale komitee van wetgewers vrygestel is, het 376 wetstoepassers op 24 Mei op die skietery by Robb Elementary School gereageer.

ʼn Video wys dat terwyl die gewapende man in ʼn klaskamer vasgekeer was, het ʼn groep beamptes in die gang gewag. Die verslag dui voorts aan dat dit 73 minute geneem het vandat die eerste beamptes op die toneel aangekom het om die klaskamer binne te dring totdat die verdagte gekonfronteer en doodgeskiet is.

Die verslag voer verder aan dat hoewel die meeste van die slagoffers onmiddellik omgekom het, sommiges dalk kon oorleef het as hulle nie so lank op hulp moes wag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willem Hendrik ·

Wetstoepassers word uitgelwer aan n stelsel wat so polities korrek wil wees, dat elke beweging hulle maak hulle weens hierdie benadering onder die bus gegooi word. Ras en geslagsbeheptheid voer botoon bo wet en orde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.