Beeldskone model verloor depressiestryd

Annalise Braakensiek. Foto: Wikipedia

ʼn Australiese model, aktrise, TV-aanbieder en ambassadeur vir ʼn veldtog om selfdood te voorkom se liggaam is in haar woonstel in Sydney aangetref,

Die polisie in Nieu-Suid-Wallis sê Annalise Braakensiek (46) se liggaam is Sondagmiddag in haar wooneenheid in dié staat se hoofstad gekry nadat vriende bekommerd was oor haar welstand, berig The Guardian.

Sy is nog nie formeel uitgeken nie, het ʼn polisiewoordvoerder gesê, maar op die oog af was daar niks verdags aan die omstandighede waarin haar liggaam gekry is nie. Die oorsaak van haar dood sal tydens ʼn nadoodse ondersoek vasgestel word.

Braakensiek was ʼn ambassadeur vir die veldtog R U OK? En was openlik oor haar stryd teen depressie nadat sy in die bestek van ʼn kort tydperk twee hegte vriende aan selfdood afgestaan en haar oupa verloor het.

Annalise Braakensiek was model, aktrise, TV-aanbieder en sakevrou. Foto: Facebook

Die 46-jarige het onlangs gepraat oor die stormagtige jaar wat sy beleef het nadat sy en haar man, Danny Goldberg, in April ná 16 jaar saam uiteen is. Sy het destyds in ʼn Instagram-inskrywing, wat intussen uitgevee is, geskryf: “Ek weet nie of ʼn stukkende hart weer heel word en of dit leer om in stukkies te leef nie.”

Op 14 Desember het sy op dié sosialemediaplatform geskryf: “Die lewe se uitdagings was die laaste tyd diep, donker, moeilik, veeleisend en skrikwekkend,” berig Fox News.

ʼn Fotograaf het Braakensiek op Bondistrand in haar tuisstad “ontdek” toe sy 16 jaar oud was. Sy het in reklameveldtogte en op tydskrifvoorblaaie in talle lande verskyn, onder meer in haar vaderland, die Verenigde Koninkryk en Amerika.

Later het sy begin toneelspeel en in die laat 1990’s komedies en sepies in Australië soos Home and Away en Heartbreak High verskyn.

In die laaste jare het sy haar hart oopgemaak oor depressie en oor hoe dit haar lewe beïnvloed het. R U OK?, waarvan sy ʼn ambassadeur was, is ʼn liefdadigheidsorganisasie wat selfdood wil voorkom deur mense aan te spoor om mekaar te vra: “Is jy oukei?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Lulutjie ·

So mooi vrou en depressie kry haar onder. Mense wat nie self met depressie lewe nie verstaan nie die stryd wat ons het nie. Elke dag baklei ek teen selfdood gedagtes. Soms wonder mens hoe lank gaan jy nog teen jouself kan baklei.

Anton X ·

Ek, en elke mens wat hier lees (glo ek) worstel teen iets. Dis sonde.
As ek jou my lewensverhaal sou vertel, glo my, sou jy jou polse afkou.
Maar, as ek haar talente gehad het, sou ek mmmmmmm……..!!!!

Verstaan dit nie ·

Ek probeer baie-baie hard on depresie Te verstaan en waar dit vandaan kom. My seun wat n uithouer, vegter en happy for life kind was het dit nou op 22 en dit wil my van my verstand af dryf. Net eweskielik. Verstaan dit glad nie. Ek was al plat geslaan en het alles twee keer verloor in my lewe maar ek was nie so nie. Verstaan dit nie!!

Lulutjie ·

Depressie is n siekte soos enige ander siekte. Mamma, wees net daar vir hom wanneer hy jou nodig het. Sterkte vir albei van julle.

Annie Webb ·

Verstaan Dit Nie, dis ‘n fisieke siekte soos enige ander fisieke siekte en word veroorsaak deur iets wat verkeerd loop met oordragstowwe in die brein en daar is medikasie voor. Klink of jy jou kind kwalik neem dat hy siek is en jy nie. Wat wil jy verstaan? As jou kind griep kry, probeer jy dit verstaan of vat jy hom dokter toe? Ek kry jou kind regtig jammer as hy aan depressie ly en sy ouer het só ‘n houding daaroor.

Sputnik ·

Verstaan dit nie, kry asb. dadelik jou seun by ‘n medikus. Daar’s beslis goeie medikasie beskikbaar.

PJC ·

Onverstaanbaar vir ons wat nie daarmee leef nie maar tog so werklik en tragies. Ongelukkig het die meeste van ons geen idee hoe om mense wat hiermee sukkel te help nie omdat ons dit hoegenaamd nie verstaan nie.

Sê wie? ·

Wys my waar veroorsaak sonde depressie. Jyt beslis nie met jou brein gedink nie. “Worstel met iets” is nie eers naby depressie nie. Wees eerder bly jy ken dit nie!

Lulutjie ·

Ek kon dit nie beter stel nie. Duidelik geen idee wat depressie is nie.

Penelope ·

Ek voel jammer vir haar en veral die geliefdes wat agterbly. Hoever moet jy heen wees en hoe desperaat. Die groot ding glo ek, is dat mense ‘n stigma heg aan depressie van swakheid ens. Ek dink as jy nie self besef dat jy depressie het nie, dan het jy ‘n probleem. Mense wil nie medikasie gebruik nie want dis ook ‘n “skande”… Mense, ek het ook depressie en kry soms nog angsaanvalle, maar ek het besef dat medikasie goed is vir my tesame met gebed en goeie vriendinne. Dis ‘n chemiese wanbalans in jou brein en dit kan behandel word met die regte medikasie. Mense moet ophou skaam wees daaroor en hulself probeer red, want as jy nie by jouself begin nie dan is dit nag. En al raak dinge te swaar, dink asb aan die persone wat agterbly en dink hoe sou jy voel… Kry hulp, gesels met iemand, bel anonieme lyne en bid, bid en bid. Ek is self een van die wat agtergebly het… Sterkte aan almal daar buite met dieselfde probleem.

Jack Sadie ·

Ek word binnekort 80. Is 40 jaar gelede met erge depressie gediagnoseer. Dis ‘n siekte. Het akademies en professioneel goed gefunksioneer. Mense, daar is medikasie en dit werk!!!!!

bosluis ·

@Ettienne – ek het dieselfde ding gedink oor die Van. Ek het nogal in die artikel gesoek om te lees of sy dalk van Nederland afkomstig mag wees.
Vir my is dit tragies die negatiewe effek wat dit op die organisasie van R U OK gaan hê. Dit wat hulle juis wil beveg het nou gebeur met die ambassadeur. Dis amper soos om te moet lees die ambassadeur van n teen- verkragting organisasie word skuldig bevind aan verkragting. Dit breek dus mense se hoop wat in die bepaalde organisasie vasklou as n reddingsboei.
Ek hoop dus om eerder op n stadium te lees dat sy dood is aan n hartaanval.

Sias Jordaan ·

Baie jammer om te hoor. Sukkel self daarmee na my ma se dood en sommige dae is moeiliker as ander waar jy net voel jy wil opgee. Omdat dit onsigbaar is verstaan mense nie dat dit ‘n werklike siekte is nie. Met tyd wat verbygaan word dit wel beter en makliker om te hanteer. Medikasie is ook ‘n opsie en elke persoon is anders. Moet net nie opgee nie.

linda limbo ·

nog een!
depressie word nie deur sonde veroorsaak nie,
depressie eindig altyd tragies
depressie maak dat van ons se naastes hulle self dood
hoekom?
want die medikasie werk nie met almal nie
soms laat dit jou erger as beter voel
daar is nie veel om te sê daaroor en ook nie veel wat jy kan doen behalwe ondersteun en sorg dat hulle elke dag die medikasie neem
ek’s so jammer vir die wat agterbly en ook die mense wat opgekyk het na haar en nou wonder
ïs die dood nie maar beter”?
as jy nog nie iemand afgestaan het agv depressie, of self die meds gebruik het moet asb nie aanvaar jy weet hoe dit werk of hoe om dit beter te maak.
dit is ‘n stryd wat min mense oorleef.

E.K. die eerste ·

Al baiekeer voorheen gesê die mens was al op die maan, stuur ruimtetuie na Mars, ondersoek die diepste dele van die see, kan hartoorplantings en ander orgaanoorplantings NET sommerso doen, maar van die brein en die funksies of wanfunksies daarvan verstaan ons BAIE min. Ek hoop maar die wat sukkel met depressie kan hulp kry of nie skaam wees om hulp te soek nie. Staan diesulkes by en weet verseker al verstaan jy dit nie, drs verstaan dit ook nie heeltemal nie, daar is nog BAIE om te leer en te probeer verstaan.

Engela ·

Ai mense, dit sê nêrens dat sy selfdood toegepas het nie!

Vicky Bownes ·

Dit maak miskien nie sin nie maar met depressie wil jy net wegkom van die doodsheid en seer in jou siel wat net nooit weggaan nie….so indien dit selfmoord was…hoe anders kom jy van dit af weg…Ek voel bitter jammer vir al die betrokkenis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.