Beer breek deur venster, val egpaar aan

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Pete Nuij/Unsplash)

’n Amerikaanse egpaar is Vrydagaand deur ’n beer in hul huis in Wisconsin aangeval nadat dié dier deur hul venster gebreek het.

Die beer is deur die man doodgeskiet nadat hulle die dier aanvanklik met ’n kombuismes probeer afweer het. Die egpaar is ná die aanval in die hospitaal opgeneem, maar sedertdien ontslaan.

Die egpaar se kinders, wat ten tyde van die aanval gelê en slaap het, is ongedeerd.

Die owerhede sê die egpaar het die beer omstreeks 23:00 buite gewaar waar sy kos van die voëlvoerder naby die huis geëet het. Die egpaar het ’n venster oopgemaak en op die beer geskree in ’n poging om die dier te verjaag.

Die beer het egter omgedraai en op die huis afgestorm voordat sy deur die venster gebreek en die egpaar aangeval het.

Die beer, wat deur die owerhede as ’n volwasse wyfie geïdentifiseer is, het blykbaar ’n welpie gehad. Dié het weggehardloop toe die beer die huis bestorm.

Die egpaar het verskeie beserings, waaronder bytmerke, opgedoen toe hulle die aanval probeer afweer het. Die beer is in ’n stadium met ’n kombuismes gesteek voordat die man eindelik sy vuurwapen in die hande kon kry en die beer doodgeskiet het.

Die plaaslike departement van natuurlike hulpbronne het die beer intussen vir toetsing weggeneem. Dit is nie duidelik watter soort  beer dit was nie.

Dié departement sê bere is oor die algemeen bang vir mense en selde aggressief. Hulle kan egter aanvallerig raak wanneer hulle hul welpies of ’n voedselbron beskerm óf skrik.

Mense word in gevalle waar ’n beer in hul tuin of om hul huis beweeg, aangeraai om na “’n veilige gebied te gaan sodat die beer ’n duidelike ontsnappingspad het” en “baie geraas te maak deur te skree, ’n motor te laat toet of op potte en panne te slaan”.

Bronne: CNN, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Cherokee ·

Hulle het op die beer geskreeu en tòe val die beer hulle aan. Daar word egter nie vertel wát hulle geskreeu het nie. Diplomasie het ook ñ rol te speel.

Frank John ·

As hulle stil gebly het of ‘n skoot afgevuur het sonder om haar te tref sou sy vlug en die wapen sou byderhand gewees het.

Cherokee ·

Ek stem saam John, maar terloops betreffende ‘n skoot afvuur; mense wat dit doen moet onthou om in die grond te skiet en niè in die lug nie, want dan gaan daardie koël erens val waaroor geen beheer is nie. So ‘n skrikmaakskoot moet in die grond geskiet word.

Henri ·

Op die foto lyk dit soos ‘n swartbeer (Ursus americanus).

Sandra ·

Nou wat word van die welpie? Hoekom op haar skreeu van die venster af as hulle veilig binne in die huis is. Sy het net probeer om haar kleintjie te beskerm en toe betaal sy die uiterste prys. So hartseer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.