Beerwelpie maak moles in woonbuurt

Foto ter illustrasie. (Foto: Eric Ljung/Unsplash)

ʼn Swart beerwelpie is Sondag deur Kanadese owerhede gevang nadat hy vir ure in ʼn buurt in Montreal gedwaal het.

Volgens Raphael Bergeron, polisiewoordvoerder, moes hulle die welpie met drie dosisse kalmeermiddel inspuit voordat hy tot bedaring gekom het.

ʼn Aantal strate naby die Montreal-lughawe is vroeg Sondagmiddag afgesper, terwyl tientalle polisiebeamptes, brandweermanne, wildbewaarders en vrywilligers van Saventage Animal Rescue na die beer gesoek het.

“Die welpie, wat net ʼn paar maande oud is, was aanvanklik in ʼn tuin vasgekeer voordat hy in ʼn boom geklim het,” het Bergeron gesê.

“Wildbewaarders het gewere gebruik om ʼn kalmeermiddel toe te dien, maar die beer het waaksaam gebly en uit die boom geklim voordat hy na ʼn ander tuin gevlug het,” het die Saventage Animal Rescue in ʼn Facebook-plasing geskryf.

Die welpie het eindelik in ʼn ander boom geklim waar hy aan die slaap geraak het. Die brandweer het lugsakke rondom die boom gesit, vir ingeval die beer uit die boom sou val.

Die beer is etlike ure nadat hy aan die slaap geraak het, deur nooddienste gevang.

“Ons het daarin geslaag om hom na die onderkant van die boom te laat sak waar hy beveilig kon word.”

Volgens Bergeron is die aanwesigheid van ʼn beer so na aan Montreal, veral in ʼn stedelike gebied naby ʼn lughawe, baie seldsaam.

Die welpie sal in ʼn omgewing wat meer geskik is vir sy behoeftes vrygelaat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

En van sy liggaamsdele verkoop as “traditional medicine”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.