‘Beethoven’-akteur sterf

Charles Grodin. (Jemal Countess/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/AFP)

Charles Grodin, wat bekendheid verwerf het vir sy rolle in Beethoven en Midnight Run, is in die ouderdom van 86 oorlede.

Die Amerikaanse akteur, geselsprogramaanbieder en skrywer het sy stryd teen beenmurgkanker verloor, het sy seun, Nicholas, bevestig.

Grodin is Dinsdag by sy huis in Wilton, Connecticut, dood. Hy het saam met Robert de Niro in die aksiekomedie Midnight Run verskyn, asook in die 1976-weergawe van King Kong. Hy is vir ʼn Golden Globe benoem vir sy rol in The Heartbreak Kid wat in 1972 verskyn het.

Hy het vroeër in sy loopbaan ʼn klein rol gehad as ʼn dokter in Roman Polanski se Rosemary’s Baby en het later bekend geword vir sy rol in die gewilde honde-gesinskomedie Beethoven waarin ʼn St. Bernard-hond ʼn gesin se lewe behoorlik deurmekaarkrap.

Charles Grodin (heel regs) in die rolprent Beethoven. (Foto: Bruce McBroom/Universal Pictures/Everett Collection)

Die Amerikaanse komedielegende, Steve Martin, het op Twitter hulde gebring en Grodin beskryf as een van die snaaksste mense wat hy nog ontmoet het.

Grodin het ook ʼn Emmy gewen as medeskrywer van ʼn Paul Simon-televisieprogram in 1977. Hy het in die 1990’s sy eie geselsprogram aangebied en het gereeld op programme verskyn wat deur Johnny Carson, David Letterman en Jay Leno aangebied is.

Grodin is in 1935 in Pittsburgh gebore en het in 1962 sy deurbraak op Broadway gemaak in die produksie Tchin-Tchin. Hy het groot sukses behaal in die 1975-produksie Same Time, Next Year waarin hy teenoor Ellen Burstyn gespeel het.

Grodin was ook te sien in Heaven Can Wait en Catch-22.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.