Beiroet-ontploffing kon ‘veel erger’ gewees het

Die Beiroet-hawe na verlede jaar se reuseontploffing. (Foto: AFP)

Libanon het verlede jaar, ná ʼn enorme ontploffing die Beiroet-hawe geruk het, ʼn tweede vlammehel net-net vrygespring, sê die Duitse maatskappy wat nou opruimingswerk in die gebied doen.

Michael Wentler, ʼn chemiese kenner betrokke by die maatskappy Combi Lift, sê duisende liters van ʼn gevaarlike stof wat al langer as ʼn dekade in verrottende houers geberg word, het die gebied in ʼn mynveld van chemiese gevaar verander.

“Ons het middels gevind wat, as dit met mekaar meng, tot ʼn ontploffing sal lei,” het hy gesê.

“Almal by die hawe is gelukkig, want al die houers staan ʼn ent van mekaar.”

Daar was verskeie brande by die hawe sedert die groot ontploffing op 4 Augustus 2020 meer as 200 lewens geëis en groot dele van die gebied in puin gelê het.

Combi Lift het in November ʼn ooreenkoms met die Libanese owerhede aangegaan om die gevaarlike middels by die ontploffingstoneel te verwerk.

Wentler en sy span het reeds 52 houers verwerk in ʼn proses wat volgens hom die dodelike chaos wat lank reeds by die hawe heers, blootlê.

“Ek het nog nooit so iets in my lewe gesien nie,” het Wentler gesê.

Hy sê die verrottende chemiese mengsels is so toksies dat dit reusegate regdeur enorme vraghouers gevreet het.

Mense verwyder beseerdes ná die ontploffing in Beiroet. (Argieffoto: Hassan Ammar, AP)

“Dit is soos ʼn see van geel en groen vloeistof wat uitgekom het. Die chemikalieë het geborrel.”

Die houers, wat al langer as tien jaar by die hawe geberg word – is deurmekaar op verskillende plekke gehou. Die meeste was in ʼn opelug-vragsone aan die teenoorgestelde kant van die ontploffingstoneel.

Die hawe se tussentydse hoof, Bassem al-Kaisi, het in November gewaarsku die hele Beiroet kon uitgewis gewees het as die middels vlamgevat het.

Die ontploffing is veroorsaak deur tonne ammoniumnitraat wat jare lank verkeerd geberg is. Die owerhede moet nog verduidelik hoekom die groot besending kunsmis in Libanon was – en hoekom dit so lank daar gehou is.

Die oorsprong van die chemikalieë wat Combi Lift nou verwerk, is ook onduidelik.

“Geen van die owerhede weet oënskynlik enigiets van die besendings nie,” het Wentler gesê.

“Ek dink nie die haweowerheid weet wat by die hawe geberg word nie.”

Sommige van die gevaarlikste middels wat die maatskappy nou moet verwerk, sluit in hidrofluoriedsuur, wat dodelik kan wees as mense dit inkry.

Die middel word in spesiale houers verseël wat na verwagting teen die einde van Februarie na Duitsland verskeep sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico ·

Jy is reg. En die inligting is verkeerd. Die suur is ook bekend as die “flesh eating acid” Dit is hoogs gevaarlik as dit op jou vel kom. Jy kan ledemate verloor in die proses. As jy dit inkry begrawe hulle jou. Geen behandeling gaan help. Die goed word in plastiek houers verpak want dit vreet deur n glasbottel in minute. Yster, nikkel ens word opgelos voor jy dit weet. Die plastiek houers het waarskynlik verweer en gekraak met die tyd. Dan is dit reguit deur die vraghouer grond toe. Dit is malligheid om die goed so lank te laat staan. Onkundige mense kan ledemate verloor en selfs sterf indien hulle die goed probeer opruim sonder om te weet wat dit is.

MakersMark ·

Jy is reg. Om dit so te stoor is ‘n resep vir ‘n probleem. Die floor ioon is wat die massiewe skade aan menslike weefsel aanrig dit bind met die kalsium in weefsel en been om floor se mees stabiele verbinding te vorm – kalsiumfluoried. In relatief klein blootstellings kan kalsiumglukonaat in die weefsel ingespuit word om kalsium te verskaf om die fluoried ioon te neutraliseer. Die suur – gewoonlik in 70% – 10% oplossings in water los glas op dit vorm silikafluoried en los meeste allooie op, en in die suiwerste vorm is dit anhidries, maw in gasvorm en uiters dodelik om in te asem. Interessant in die kernbedryf word dit gebruik om uraan on te skakel na ‘n gasvorm – UF6, waaruit die uraan verryk word.

Suzette ·

Wonder nogal wat by ons hawens aangaan? Ek dink ons hare sal rys want hier is in elk geval GEEN beheer oor niks nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.