Beiroet-ontploffing: Minstens 70 sterf reeds

Die ontploffing in Beiroet is honderde kilometers ver gehoor. (Foto: Hassan Ammar/AP)

Die massiewe ontploffing wat Beiroet Dinsdag geruk het, het die grootste gedeelte van die stad se hawe platgeslaan, talle geboue in die hoofstad beskadig en ʼn enorme sampioenwolk die lug ingestuur.

Die dodetal staan in hierdie stadium op 70, terwyl sowat 3 000 mense beseer is. Talle lyke is in die rommel begrawe.

Dit is nie duidelik wat die ontploffing veroorsaak het nie, maar dit het die stad volgens Duitsland se sentrum vir geowetenskap met die krag van ʼn aardbewing van 3,5 getref. Die ontploffing is so ver as Siprus, sowat 200 kilometer verder oor die Mediterreense See, gevoel. Libanon se minister van binnelandse sake het gesê dit lyk of ʼn groot besending ammoniumnitraat in die hawe ontplof het.

Die skielike ontploffing het die land byna oorweldig.

Die dodetal staan in hierdie stadium op minstens 70. Talle mense is onder die puin begrawe. (Foto: Hassan Ammar/AP)

Ure ná die ontploffing, die mees verwoestende in Libanon se troebel geskiedenis, is ambulanse van oor die land na die toneel gestuur om die gewondes te vervoer. Hospitale was vinnig oorvol en het gepleit vir mense om bloed te skenk, asook opwekkers om hul ligte aan te hou.

Bebloede inwoners het in verskeie blokke om die hawe deur die strate gesteier. Omgekeerde voertuie en rommel van die beskadigde geboue het oral rondgelê. Vensters en deure is kilometers ver uitgeruk, ook by die land se enigste internasionale lughawe. Weermaghelikopters het die brande in die hawe help blus.

Mohammed Fahmi, minister van binnelandse sake, het aan ʼn plaaslike televisiekanaal gesê dit lyk of die ontploffing veroorsaak is deur meer as 2 700 ton ammoniumnitraat wat ontplof het. Dit is in pakhuis op die dokke gestoor nadat dit in 2014 op ʼn vragskip gevind en gekonfiskeer is. Ooggetuies het vertel dat hulle ʼn oranje wolk in die lug sien hang het wat moontlik giftige gasse was.

Hospitale in die hoofstad is oorweldig en mense is gevra om bloed te skenk. (Foto: Hassan Ammar/AP)

Video’s wys wat lyk soos ʼn brand kort voor die ontploffing en plaaslike media het berig dat ʼn vuurwerkpakhuis betrokke was. Die brand het oënskynlik na ʼn nabygeleë gebou versprei en die groter ontploffing veroorsaak.

Charbel Haj, wat by die hawe werk, het vertel die ontploffing het begin met klein ontploffings, amper soos vuurwerk. Daarna, het hy vertel, is hy van sy voete af geruk.

Die ontploffing kom te midde van voortgesette spanning tussen Israel en die Hizbollah- militêre groep op Libanon se suidelike grens. Talle inwoners het gesê hulle het vliegtuie kort voor die ontploffing gehoor. Dit het gerugte van ʼn aanval aangevuur, hoewel verbyvlugte deur die Israelse weermag alledaags is.

ʼn Israeli-amptenaar het gesê Israel het “niks” met die ontploffing te doen gehad nie. Hy het op voorwaarde van anonimiteit gepraat omdat hy nie toestemming het om met die media te praat nie. Israelse amptenare lewer nie gewoonlik kommentaar op sulke kwessies nie.

Die Israelse regering het wel noodlenigingshulp deur internasionale tussengangers aangebied.

(Foto: Hussein Malla/AP)

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het gesê die VSA is gereed om Libanon by te staan en die minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, het sy “diepste medelye” betuig.

“Ons span in Beiroet het verslag gedoen oor die uitgebreide skade aan ʼn stad en mense wat vir my kosbaar is. Dit is ʼn bykomende uitdaging in ʼn tyd waar daar reeds ʼn groot krisis heers,” het Pompeo in ʼn verklaring gesê.

Die ontploffing het ʼn stad, wat al ʼn 15 jaar lange burgeroorlog, selfmoordbomaanvalle, bombarderings deur Israel en politieke sluipmoorde gesien het, verstom.

“Dit was ʼn gruvertoning. Ek het sedert die burgeroorlog nog nooit so iets gesien nie,” het Marwan Ramadan gesê. Hy was sowat 500 meter van die hawe en is ook deur die ontploffing van sy voete afgeruk.

Die land is vervloek, het nog ʼn jong man digby die toneel van die ontploffing gemompel.

Die minister van gesondheid, Hassan Hamad, het gesê die voorlopige dodetal is meer as 70 en meer as 3 000 mense is gewond. Hospitale kan nie voorbly nie en aanbiedinge van hulp stroom in vanuit ander Arabiese state en vriende van die land.

Die ontploffing het die grootste gedeelte van die hawe verwoes. (Foto: Hussein Malla/AP)

Beiroet se goewerneur, Marwan Abboud, het in trane uitgebars terwyl hy die toneel besoek het. “Beiroet is ʼn verwoeste stad,” het hy uitgeroep.

Eerste minister Hassan Diab het onderneem dat diegene verantwoordelik vir die ontploffing sal boet.

Trump het tydens ʼn mediakonferensie oor Covid-19 gesê die ontploffing “lyk soos ʼn aaklige aanval”. Op ʼn vraag oor of hy seker is dit was wel ʼn aanval, het Trump gesê: “Ek het sommige van ons groot generaals ontmoet en hulle voel dat dit was.”

Een van Israel se voorste plofstofkenners, Boaz Hayoun, het gesê vuurwerk kon die groter ontploffing veroorsaak het.

Die VN se mag in Libanon, UNIFIL, het intussen gesê een van sy skepe in die hawe is beskadig en heelparty van sy vredesoldate is beseer, sommige van hulle ernstig.

Die ontploffing skep ook groot kommer oor hoe Libanon voortaan byna al sy noodsaaklike goedere gaan invoer deur ʼn hawe wat byna heeltemal in puin gelê is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Akhenatha ·

Daardie land gaan deur die een krisis na die ander. Arme mense.

Nella ·

So hartseer. Die wereld se probleme gaan nooit ophou nie. Elke dag iets nuuts wat ons mensdom uitwis.

Oom Hennie Pennie ·

Altyd hartseer as onskuldige mense moet seerkry in geweld met ander.

Antoinette ·

Dis darem verskriklik. NIEMAND het die reg om onskuldige mense se lewens so uit te wis nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Soms oordeel ons vinnig en ondeurdag. Volgens ander nuusbronne is dit as gevolg van ‘n vonk tydens sweiswerk wat ‘n groot hoeveelheid amonium nitraat laat ontplof het. Dalk weens onkundigheid of onverskilligheid, maar nie doelbewus nie.
Dit is ook maar nuus, en sal seker bevestig of afgewys word as oorsaak na ondersoekwerk afgehandel is. Kom ons hou die media dop.

Misky ·

Die jaar 2020 is gedoem!!!! Moet net so vinnig as moontlik verby gaan en agter ons kry

Cherokee ·

Ons kan ook ‘n nuwejaaarsdag uitroep en 2020 oor begin…

4ntj13 ·

Ek wonder wie in Mosambiek het 6 jaar gelede 2750 ton ammoniumnitraat bestel, en met ʼn vrot skip uit Georgië probeer vervoer. Is daar ooit so ʼn groot kunsmisfabriek? Of was die “wapens” teen SA bedoel? IS?

marius ·

Die plaaslike weergawe wat melding maak van vuurwerke wat aan die brand geslaan het is sinvol . Dit blyk duidelik dat daar ‘n sneller was vir die Amoniumnitraat . Twee heeltemal verskillende ontbrandings Enige SAI of Genie korps sappeur sal dit bevestig .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.