Beiroet-ontploffing moontlik weens nalatigheid

Lebanese soldate hou Donderdag wag by die toneel waar die ontploffing plaasgevind het. (Foto: AP Photo/Hussein Malla)

Die moontlikheid word ondersoek dat die massiewe ontploffing in Beiroet in Libanon weens die nalatige stoor van tonne uiters plofbare ammoniumnitraat in ’n pakhuis in die hawe plaasgevind het.

Luidens inligting fokus ʼn span ondersoekers op die 2 750 ton ammoniumnitraat, ’n hoogs plofbare chemikalie wat in kunsmisstowwe gebruik word, wat ses jaar lank by die betrokke pakhuis op die dokke gestoor is. Dít nadat dit in 2014 op ʼn vragskip gevind en gekonfiskeer is.

Daar bestaan talle vrae oor hoe só ’n enorme vrag hoogs plofbare materiaal jare lank bloot gestoor kon word en waarom daar nooit iets omtrent die vrag gedoen is nie.

Die Libanese staatsaanklaer Ghassan Oueidat het veiligheidsagentskappe opdrag gegee om onmiddellik met ’n ondersoek te begin en alle verslae en briewe wat verband hou met die vrag bymekaar te kry. Lyste van die mense wat verantwoordelik is vir instandhouding en stoor van goedere in die pakhuis is ook aangevra.

Aanklaers in Frankryk het Woensdag ’n ondersoek van hul eie ingestel na die ontploffing, nadat 21 Franse burgers in die voorval beseer is.

Die Libanese eerste minister, Hassan Diab, het intussen gesê diegene wat verantwoordelik is vir die ontploffing sal tot verantwoording geroep word.

Die hawe in Beiroet is in puin gelê. (Foto: AP Photo/Thibault Camus, Pool)

Die dodetal weens die ontploffing staan tans op 137. Sowat 5 000 mense is beseer en talle steeds vermis.

Volgens Marwan Abboud, goewerneur van Beiroet, beloop die skade tussen $ 10 miljard (sowat R174 miljard) en $15 miljard (sowat R262 miljard). Bykans 300 000 mense in dié stad is sedertdien haweloos gelaat.

Maroela Media het vroeër berig die ontploffing het Dinsdag die grootste gedeelte van Beiroet se hawe platgeslaan, talle geboue in die hoofstad beskadig en ʼn enorme sampioenwolk die lug ingestuur.

Die skielike ontploffing het die land byna oorweldig.

Ure ná die ontploffing is ambulanse van oor die land na die toneel gestuur om die gewondes te vervoer. Hospitale was vinnig oorvol en het gepleit vir mense om bloed te skenk, asook opwekkers om hul ligte aan te hou.

Bebloede inwoners het verskeie blokke van die hawe af deur die strate gesteier. Omgekeerde voertuie en rommel van die beskadigde geboue het oral rondgelê. Vensters en deure is kilometers ver uitgeruk, ook by die land se enigste internasionale lughawe, en weermaghelikopters het die brande in die hawe help blus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Leon ·

Ammoniumnitraat op sy eie is nie plofbaar nie. Dit moet eers met iets anders gemeng word en dan moet daar ook nog n detonasie wees om die ontploffing aan die gang te sit. Spontane ontploffing onwaarskynlik. Maar die lang tyd wat dit gestoor was kon dalk rede wees.

Nico ·

Ammonimnitraat plus hitte(vuur in aangrensende gebou) plus detonasie(ontplofende vuurwerke) = groot ontplofing.

MakersMark ·

As jy mooi kyk na die video van die ontploffing sal jy sien daar was ‘n reuse vuur betrokke…….NH4NO3 sal ontplof onder die regte omstandighede met hoë genoeg temperatuur. So ons wonder “wie” het dit met “iets” gemeng en wie het ‘n “detonasie” voor die uiteindelik reuse ontploffing veroorsaak. Terug na st. 7 chemie.

Snowball ·

Toe nie die buurland nie, bloot veiligheidsprosedures wat verontagsaam is.

Deon ·

My vraag is, le iewers hier in ons land met al hierdie on ingeligte mense nie ook so SLANG en wag vir ons nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.