Bejaarde toeris sterf toe olifant voertuig bestorm

Waarskuwing: Beeldmateriaal van die voorval kan sensitiewe kykers ontstel.

ʼn Amerikaanse toeris is dood nadat ʼn olifant ʼn wildkykvoertuig in die Kafue Nasionale Park in Zambië bestorm het. (Foto: Facebook / Okavango News 24/7)

ʼn 80-jarige Amerikaanse toeris is dood nadat ʼn “aggressiewe olifantbul” ʼn wildkykvoertuig in die Kafue Nasionale Park in Zambië bestorm het.

ʼn Ysingwekkende video waarin gesien kan word hoe die olifant op die voertuig afpyl en dit uiteindelik omgooi, word tans wyd op sosiale media versprei.

Luidens ʼn verklaring deur die safari-operateur Wilderness het die voorval Saterdag, 30 Maart, tydens ʼn wildrit van die Lufapa-kamp plaasgevind.

Ses mense en ʼn toergids was in die voertuig. Nog ʼn vrou is in die voorval beseer en na ʼn private hospitaal in Suid-Afrika geneem. Die ander gaste is vir geringe beserings behandel en traumaberading is reeds aan die betrokkenes gebied, sê die maatskappy.

ʼn Amerikaanse toeris is dood nadat ʼn olifant ʼn wildkykvoertuig in die Kafue Nasionale Park in Zambië bestorm het. (Foto: Facebook / Okavango News 24/7)

“Die ses gaste was Saterdag ongeveer 09:30 op die wildsrit toe die voertuig onverwags deur ʼn olifantbul bestorm is. Ons gidse is uiters goed opgelei en ervare, maar ongelukkig was die terrein en plantegroei van so ʼn aard dat dit die gids se roete versper het. Hy kon die voertuig nie vinnig genoeg buite gevaar kry nie,” het Keith Vincent, hoof- uitvoerende beampte van Wilderness, gesê.

Volgens Vincent is die park se bestuur onmiddellik versoek om bystand te bied en ʼn helikopter is na die toneel ontplooi. Weens die aard van die voorval is die polisie, die departement van nasionale parke en wildlewe en ander toepaslike owerhede ook ontbied.

“Wilderness gee sy volle samewerking in dié verband.

“Dit is ʼn tragiese voorval en ons betuig ons innige meegevoel met die familie van die oorlede besoeker. Ons bied uiteraard ook ondersteuning aan die ander gaste en gids wat by die voorval betrokke was.”

Die park het nie self foto’s of beeldmateriaal van die voorval bekendgemaak nie “uit respek vir die oorledene se familie en die ander betrokke partye”.

Vincent sê die Zambiese regering en Amerikaanse ambassade in Lusaka sal die nodige bystand bied om die slagoffer se liggaam na die VSA te repatrieer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

ekweetniks ·

hoekom sal enige bekwame bestuurder/toergids stop in so situasie?

Niklaas ·

Die voertuig bestuurder / gids , kon mos duidelik sien hierdie olifant is glad nie gelukkig nie. Ek is seker hy sou kon wegkom voor die kwaai olifant. Was nie slim om daar te stop nie.

George ·

@ekweetniks, die kern woord in jou sin is “bekwame” enige persoon kan sien in die olifant se gedrag dat dit nie stop werd is nie. Wou seker viral gaan.

Stofbakkies ·

Ek weet dit is nou nie in SA nie, maar hier sien mens gereeld hoe gidse stop in situasies waar dit nie baie veilig is nie, net sodat die toeriste fotos kan neem, hulle druk ook tussen voertuie in wat dit vir hulle onmoontlik maak om vinnig uit ‘n gevaar situasie te kom. Nogtans baie hartseer oor wat gebeur het, my innigste simpatie aan almal betrokke.

Jeanette ·

Ek hoop nie die arme Olifant word nou weer van kant gemaak nie!!!!!!!!!!!!!!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis seker mating season daar. Olifante word dan besonder aggresief.

Kobusnutz ·

Waar Olifante “bewaar ” en beskerm word moet hulle getale beheer word sodat die ekologie beskerm kan word. Oorbevolking van olifante lei tot frustasie van die olifante en sal hulle agresiewe gedrag begin toon. Hou die natuur in balans en gebruik oortollige diere vir ekonomiese ondersteuning van sulke bewaarareas.

Marina ·

Nou sal die olifant seker van kant gemaak word, dit maak my briesend … ons is in hulle habitat ,,, nie andersom

Joan ·

‘n Mens kan al van doer ver sine hierdie olifant is agressief en aanvallend! Dit is wat hy dan op die ou-end gedoen het. Maar, was die motor toe afgesluit? Dit sou dom gewees het. Kon hy nie betyds wegjaag nie? Olifante is onvoorspelbaar. Bly asseblief ver weg . . . vernaam as hy hardloop en boonop na jou rigting!

Joan ·

Kobunutz, ek sien nie nog olifante in sy nabyheid nie. Daar was nie op daardie plek en oomblik getalle van ander olifante nie. Botswana het ‘n probleem, ek weet nie van Zim nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.