Bejaardes verstik aan Japannese ryskoek

Japannese ryskoek, bekend as mochi. (Foto: Unsplash)

Twee bejaarde vroue van Japan is op Nuwejaarsdag dood terwyl vier ander bejaardes in die hospitaal opgeneem is nadat hulle almal aan Japannese ryskoek, bekend as mochi, verstik het.

Die nasionale polisie-agentskap en die brand-en-rampbestuursagentskap doen elke jaar voor Nuwejaar spesifiek ’n beroep op bejaardes om versigtig te wees wanneer hulle dié taai ryskoek eet.

Japan Today berig ’n 88-jarige vrou het Saterdag omstreeks 08:00 aan mochi by haar huis verstik. Sy is hospitaal toe gehaas waar sy dood verklaar is.

Die ander oorledene was ook in haar 80’s, terwyl diegene wat in die hospitaal opgeneem is, tussen 88 en 100 jaar oud is.

Om aan mochi te verstik – ’n taai en soet tradisionele lekkerny wat op Nuwejaarsdag bedien word – is ’n algemene verskynsel en die Tokio-polisiedepartement het selfs ‘n webwerf wat wenke bied oor hoe om iemand te help wat aan die taai ryskoek te verstik.

Veral kinders en bejaardes word gemaan om dit in kleiner stukkies te sny en dit stadig te eet.

CBS News berig mochi is byna elke jaar die oorsaak van sterftes weens verstikking, veral onder bejaardes. Altesame nege mense het in 2015 weens verstikking gesterf nadat hulle dié tradisionele ryskoek geëet het.

Mochi word gemaak van gestoomde wit rys of glutineuse (klewerige) rys en is ‘n stapelvoedsel in die Japannese kookkuns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Ek dink enigiemand kan aan dit verstik. Nie net kinders en bejaardes nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.