Bekende akteur geloof wat grypdiewe takel

Benedict Cumberbatch. Foto: Facebook

ʼn Britse kosafleweringsmaatskappy het die bekende akteur, Benedict Cumberbatch, bedank wat een van sy afleweraars van vier vermeende grypdiewe gered het.

Sky News berig Deliveroo het Cumberbatch, bekend vir sy rol in ʼn Britse televisiereeks as Sherlock Holmes en rolprente soos Marvel’s Avengers: Infinity War en 12 Years a Slave, Vrydag bedank omdat hy een van die maatskappy se afleweraars gered het wat deur booswigte in Londen oorval is.

Dit is nie duidelik wanneer die aanval plaasgevind het nie.

Volgens nuusberigte was Cumberbatch saam met sy vrou, Sophie Hunter, in ʼn taxi in die sentrale gedeelte van Londen toe hulle gesien het hoe ʼn fietsryer deur vier aanvallers aangerand word. Hy het glo uitgespring, op die groep afgepyl en een van die aanvallers gegryp. Volgens mediaberigte het die aanvallers die fietsryer met ʼn bottel geslaan en sou hy moontlik ernstige beserings opgedoen het as Cumberbatch nie ingegryp het nie.

Manuel Dias, die bestuurder van die taxi, het aan The Sun-koerant gesê Cumberbatch was “dapper, moedig en onbaatsugtig”.

“As hy nie ingetree het nie, sou die fietsryer ernstig seergekry het. Hier was Sherlock Holmes besig om vier aanvallers aan te vat net om die hoek van Bakerstraat. Hy het vir hulle geskree, ‘los hom uit!’,” het die taxibestuurder gesê.

SkyNews berig Deliveroo beskou die veiligheid van hul afleweraars as ʼn topprioriteit en sulke voorvalle is volkome onaanvaarbaar. “Ons wil graag vir Benedict Cumberbatch bedank vir sy heldedaad. Namens almal by Deliveroo, baie dankie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stem saam ·

Stem saam, heel eenvoudig om nie net anderpad te kyk. Ek wonder tog of dit ook ‘verdagtes’ is soos by ons genoem?

Bittergal ·

Sherlock Holmes was ‘n speurder met ‘n snaakse hoed en ‘n vergroorglas.. Nie juis dapper nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.