Bekende bergklimmer sterf naby Everest

Ueli Steck (11 September 2015) Foto: Christian Beutler/Keystone via AP

Die wêreldbekende Switserse bergklimmer, Ueli Steck, is Sondag dood in ʼn bergklimongeluk naby die berg Everest in Nepal.

Mingma Sherpa van die Seven Summit Treks, die ekspedisie-organiseerders, het gesê Steck is by Kamp 1 van berg Nuptse oorlede. Sy liggaam word na Lukla geneem, waar die enigste lughawe in die gebied geleë is.

Dis nog nie duidelik hoe Steck dood is nie, maar hy was van plan om volgende maand 8 850 m te klim – Everest en die nabygeleë berg Lhotse. Hy het vermoedelik op die ys gegly en geval.

Dit is die eerste sterfgeval van die lente-bergklimseisoen in Nepal wat in Maart begin het, en tot einde Mei voortduur. Honderde bergklimmers is op die berg om in Mei die Himalajas te klim, wanneer daar ʼn paar geleenthede sal wees vir gunstige weer.

Die 40-jarige Steck was een van die bekendste bergklimmers van sy generasie. Hy is bekend vir sy spoed en het verskeie rekords verbeter vir die noordelike kant van die Eiger, ʼn klassieke piek in die Bernese Alpe. Hy het dié berg binne twee uur en 47 minute geklim sonder ʼn tou.

Steck was in 2013 die eerste persoon wat alleen die Annapurna, suidelike kant in Nepal, geklim het nadat hy byna in 2007 hier gesterf het. Hy het die volgende jaar die “Piolet d’Or” ontvang, wat beskou word as die Oscar van bergklim.

Hy het in 2015 besluit om al 82 pieke in die Alpe te klim wat hoër is as 4 000 m. Hy het slegs per voet, fiets en sweeftuig tussen die berge gereis. Hy het dit binne 62 dae afgehandel en sy reputasie as “die Swiss Machine” gestand gedoen.

Hy het verlede maand in ʼn onderhoud met die Switserse koerant Tages-Anzeiger gesê hy beskou homself as ʼn “buitestander” in die bergklimwêreld, omdat atletiese prestasie vir hom belangriker is as avontuur.

Oor sy Everest-Lhotse-ekspedisie, waar hy vinnig van een piek na ʼn ander sou klim, insluitend om in die “doodsone” te oornag, het Steck gesê: “As ek op Everest is, kan ek enige tyd ophou. Die risiko is dus baie laag. Dis ʼn fisies projek. Ek gaan dit óf kan doen, óf ek gaan nie die krag hê om die trajek oor te steek nie.”

Op ʼn vraag wat hy as die sukses van die ekspedisie sou beskou, het hy aan Tages-Anzeiger gesê: “Natuurlik wil ek Everest en Lhotse klim. Maar dit is ʼn baie hoë doelwit. Mislukking sal wees as ek sterf en nie huis toe kom nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Middelburger ·

Min het hy geweet sy woorde sou waar word… Baie hartseer

Linda van Mosselbaai ·

Tenminste het hy gedoen waarvan hy hou – die passie in sy lewe. Sterkte aan almal wat hierdeur geraak is.

WitBlits ·

Baie tragies, maar hy was sekerlik deeglik bewus van die gevare en het net te lank aangehou.
Daarom verstaan mens hoekom iemand soos Lewis Hamilton op die kruin van sy loopbaan uit motorsport tree, want hy weet dat die dood lê en wag omdat dit so gevaarlik is.

M'Lady ·

WitBlits, dit was Nico Rosberg wat uitgetree het. Lewis Hamilton het vandag vierde gekom in die Russiese Grand Prix.

heni seemann ·

hier in switzerland was hy bekend vir sy ekstrême passie… hy het altyd op die doodslyn gedans…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.