Bekende boksers veg nou teen Russe

Vitali en Wladimir Klitschko. (Foto: Genya Savilov/AFP)

Verskeie wêreldbekende Oekraïense boksers het nou besluit om wapens op te neem en teen die Russiese magte wat hul land ingeval het te veg.

Vitali Klitschko, ʼn voormalige bokskampioen, het verlede week aangekondig dat hy sy deel gaan doen om Oekraïne teen die Russe te verdedig.

Klitschko het in 2012 as professionele bokser afgetree en is sedert 2014 die burgermeester van Kiëf.

Rusland het verlede maand dié stad ingeval en het sedertdien sy visier op die land se tweede grootste stad, Kharkiv, gerig.

Volgens die nuusagentskap ESPN het Klitschko gesê hy het geen ander keuse as om te veg nie.

“Op die oomblik is die belangrikste ding om ons land te verdedig.”

Sy broer Wladimir, ook ʼn voormalige bokskampioen, het net voor die aanvang van die grootskaalse inval in die land by die Oekraïense reserwemag aangesluit.

“Ek is ʼn Oekraïener en ʼn vegter,” het Wladimir aan AFP gesê.

“Ons beste wapen in hierdie stadium is die wil en begeerte om in ʼn vry land te leef, daarom sal ons onsself met alle mag verdedig en veg vir vryheid en demokrasie.”

Die broers wat albei deel is van internasionale boks se eresaal, is intussen deur Arnold Schwarzenegger, voormalige liggaamsbouer, politikus en sakeman, geloof vir hul besluit om vir Oekraïne te veg.

“Julle was my helde in boksgevegte en julle is nou ook my helde,” het Schwarzenegger verlede week in ʼn plasing op sosiale media geskryf.

Ander bekende boksers van Oekraïne is ook nou aangespoor om hul vernuf tot beskikking van die weermag te stel.

Die bokser Vasiliy Lomachenko het ʼn foto op sosiale media gedeel waar hy sy nuwe weermagtoerusting vertoon ter voorbereiding van die komende gevegte.

Nog ʼn bokser wat by die stryd aangesluit het eerder as om met sy voorbereiding vir komende boksgevegte voort te gaan, is Oleksandr Usyk, berig die nuusagentskap Marca.

“Rusland maak nie oorlog teen ons regering of weermag nie, maar teen die mense [van Oekraïne],” het hy gesê.

Verskeie politici van onder meer die VSA en Oostenryk het ook diegene wat besluit het om hul beroepe op sy te sit totdat die konflik tussen die twee Europese lande uitgestryk is, geloof op sosiale media.

“Aan die mense van Oekraïne, Vitali Klitschko en die president – Amerika staan saam met julle,” het Michael McCaul, verteenwoordiger van die Amerikaanse deelstaat Texas se tiende kongresdistrik, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leeuwyfie

Bokser vir burgemeester en sanger/komediant vir president. Dit lyk asof demokrasie die land gefaal het.

Marthinus

Witali Klitsjko het na sy boksloopbaan n PhD in politiek gedoen (as ek reg onthou), en politikus geword. Met die 2014-dinge het hy besluit om te skiet vir president. Victoria Nuland, toe Amerika se adjunk-minister van buitelandse sake, se telefoongesprek met Geoffrey Pyatt, die Amerikaanse anbassadeur in Oekraine, is op die net. Daarin besluit sy, namens die Withuis, wie die Oekrainse regering na die verkiesing gaan wees. Sy het gese “Klitsch” is nie goed genoeg nie, hy moet burgemeester van Kief word; sy soek “Yats”, Arseni Jatsenjoek, as premier. n Dag of twee later verskyn Witali Klitsjko voor die media… Lees meer »

Richardt

Lees Leeuwyfie se antwoord en wees beter ingelig.