Bekende Engelse krieketspeler ondervra oor aanranding

Ben Stokes (Foto: BBC Sport, Twitter)

Ben Stokes, een van die wêreld se voorste veelsydige krieketspelers en ʼn sleutelspeler van Engeland, is vroeg Maandagoggend ná ʼn voorval in ʼn Bristolse nagklub in hegtenis geneem en sal nie Woensdag in die vierde eendaagse wedstryd teen Wes-Indië op die Oval in Londen speel nie.

Die Britse en Walliese Krieketraad het Dinsdag in ʼn verklaring bekend gemaak dat Stokes aanvanklik aangehou is maar later vrygelaat is terwyl die saak verder ondersoek word.

Sy spanmaat Alex Hales speel ook nie in Woensdag se vierde eendaagse wedstryd nie. Hy het vrywillig na Bristol teruggekeer om die polisie met hulle ondersoek by te staan. Hy was ook by die nagklub tydens die voorval.

Die polisie van Avon en Somerset het ʼn beroep gedoen op diegene met inligting om met hulle in aanraking te kom oor die voorval waarin ʼn 27-jarige man gesigsbeserings opgedoen het.

♦  Engeland se span vir die Asse-reeks wat oor vyf toetse tussen 23 November en 8 Januarie beslis sal word, word Woensdag aangekondig. Daar word nie verwag dat Maandagaand se voorval ʼn invloed op die spankeuse sal hê nie, afhangende van moontlike hofsake wat mag volg.

“Die keurders het opdrag om die beste span gebaseer op vorm en fiksheid te kies,” het die voormalige Engelse kaptein en nou kaptein van die Engelse Krieketraad, Andrew Strauss, aan Sky Sports News gesê.

♦  Stokes was al voorheen by voorvalle (albei op toere) betrokke. In 2013 is hy teruggestuur huis toe nadat hy tydens die toer van die Lions – Engeland se A-span – in Australië die span se aanklokreël verontagsaam en gaan partytjie hou het.

Die volgende jaar het hy sy hand tydens ʼn toer na Wes-Indië gebreek toe hy ʼn sluitkas in die kleedkamer met die vuis geslaan het nadat hy met die eerste bal uitgehaal is. Hy kon weens die besering nie aan die T20-Wêreldbekertoernooi deelneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Hoeveel sulke agressiewe gedrag onder “sport sterre” word op en af van die veld van gehoor? Maar hulle word verskoon want hulle is wel…sport sterre?

Rupert Ashford ·

Jy ken nie die hele storie hier nie Johann so haas jou langsaam met kritiek. Ek sal verbaas wees as Stokes die verloorder in hierdie geveg bygeloop het terwyl hy sit en Bybel lees het…;-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.