Bekende ‘Frasier’-akteur sterf

John Mahoney as Martin Crane. (Foto: AP Photo/Reed Saxon)

John Mahoney, bekend as die befoeterde pa in die gewilde TV-komediereeks Frasier, is Sondag in die ouderdom van 77 dood.

Mahoney, wat van 1993 tot 2004 die rol van Martin Crane in dié reeks gespeel het, is in Chicago in die VSA dood kort nadat hy in die hospitaal opgeneem is. Volgens Paul Martino, Mahoney se bestuurder die afgelope 30 jaar, is die oorsaak van sy dood nog nie bekend nie.

In die reeks het Mahoney die radio-omroeper Frasier en sy broer, Niles, se rusbankgebonde ekspolisieman-pa gespeel.

Frasier, vertolk deur Kelsey Grammer, en Niles, vertolk deur David Hyde Pierce, is albei sielkundiges met ʼn verhewe siening van hul eie intellek. Die twee broers sit gedurig vas met hul pa, maar wanneer die nood knyp, seëvier familiebande elke keer.

Die akteur is in 1940 in Blackpool, Engeland, tydens die Tweede Wêreldoorlog gebore en het hom later in Chicago gevestig. Hy is vir twee Emmy-toekennings benoem vir sy rol in Frasier en het in 1986 ʼn Tony-toekenning gewen vir The House of Blue Leaves.

“Jy was ʼn ongelooflike akteur en ʼn lieflike, goedhartige mens – as jy hom gesien het, het jy beter gevoel,” het die akteur John Cusack, wat saam met Mahoney in die 1989-fliek Say Anything gespeel het, op Twitter gesê.

Mahoney het in 2015 as die veteraanaktrise Betty White se vriend in die komediereeks Hot in Cleveland verskyn en ʼn gasrol gespeel in Foyle’s War. Hy was ook meer onlangs op die silwerdoek te sien in flieks soos The American President, Eight Men out, Tin Men en Dan in Real Life, saam met Steve Carell.

Die rolverdeling van ‘Frasier’ tydens die 50ste jaarlikse Emmy-toekennings in 1998. (Foto: AP Photo/Reed Saxon)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

geniet ·

Jammer die oubaas is oorlede. Ek het die reeks baie geniet. Veral sy rol.

Jona ·

What an actor, RIP ou maat, jy’t gesorg vir jaaare se glimlag en hardlag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.