Bekende handelsname staak bedrywighede in Rusland

Meer as 62 000 mense werk by McDonald’s se 850 restaurante in Rusland. (Foto: Alexander Nemenov / AFP)

Groot handelsname soos McDonald’s, Coca-Cola en Starbucks het Dinsdag hul bedrywighede in Rusland opgeskort.

Dié maatskappye volg op die spoor van talle internasionale handelsname, waaronder PepsiCo, wat hul dienste en verkope óf heeltemal gestaak óf beperk het. McDonald’s het al sy 850 restaurante in Rusland tydelik gesluit waar meer as 62 000 mense werk.

Dié stappe volg nadat Rusland Oekraïne byna twee weke gelede ingeval het.

Verskeie boikot-beroepe is sedertdien op al dié handelsname, simbole van Amerikaanse kulturele invloed op die wêreld, gemaak terwyl beleggers ook vrae oor hul teenwoordigheid in Rusland begin vra het.

“Ons kan nie die onnodige menslike lyding wat in Oekraïne ontvou, ignoreer nie,” het McDonald’s oor dié tydelike sluiting gesê.

PepsiCo sê hoewel verkope van sy Pepsi-koeldrank, asook 7Up en Mirinda, gestaak word, sal die maatskappy voortgaan om produkte soos melk en babakos aan te bied.

“Deur aan te hou werk, sal ons ook voortgaan om die lewensbestaan ​​van ons 20 000 Russiese medewerkers en die 40 000 Russiese landbouwerkers in ons voorsieningsketting te ondersteun,” het Ramon Laguarta, uitvoerende hoof van PepsiCo, in ’n verklaring gesê.

Starbucks, wat 130 Koeweitse konglomeraat-bestuurde koffiewinkels in Rusland het, het gesê alle bedrywighede, waaronder produkversendings, sal opgeskort word.

’n Span van die Yale-universiteit in die VSA wat ’n lys van maatskappye met ’n beduidende teenwoordigheid in Rusland byhou, het gesê sowat 290 maatskappye het sedert die inval onttrekking uit die land aangekondig.

Ongeveer 30 multinasionale ondernemings bly steeds op die lys van maatskappye met aansienlike blootstelling aan Rusland.

Sommige ondernemings het egter om wetlike redes besluit om nie alle bedrywighede te staak nie.

In Rusland word Yum! Brands se talle KFC- en Pizza Hut-restaurante onafhanklik besit. Takke in maatskappybesit het wél bedrywighede opgeskort.

Maatskappye kan huiwerig wees om te onttrek, onder meer omdat hulle noodsaaklike produkte soos farmaseutiese bestanddele vervaardig en verkoop, het Tim Fort, ’n professor in sake-etiek aan die Indiana-universiteit in die VSA, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Witbaard ·

Rusland steur hom nie daaraan nie. McD en Pepsi is nie noodsaaklike produkte nie en hulle voel vere vir hulle werkers. Die wereld moet eerder bekommerd raak oor die olie waaroor die wereld afhanklik is. Russe lyk dit my hou die troefkaart.

Cherokee ·

Putin sal nie onverpoosd kan voortgaan nie. Sy eie mense sal in opstand wees. Al het hy geld sal hy nie kan koop wat nie beskikbaar is, nie.

Tiaan ·

McDonalds laat 65 duisend werkers werkloos in Rusland, hulle moes dalk eerste aan hulle werknemers gedink het voordat hulle by politiek betrokke raak.

Cherokee ·

D it is deel van oorlog. Rusland (lees putin) skiet mense. McDonald’s se reaksie deur mense werkloos te laat, is ‘n beskeie terugslaan. Dit is nie bloot politiek, maar oorlog.

Marthinus W ·

Toe ons soortgelyke sanksies ondervind het, was daar vir sekeres voordele. Barclays-bank het gedisinvesteer, waarop Johan Rupert hulle oorgekoop het en omskep het in FNB. Amerikaanse oliemaatskappye se aandele gaan heelwaarskynlik deur Chinese oorgekoop word. Beleggers se mos: as die bloed in die strate loop, moet jy koop, maar as dara vrede is, moet jy verkoop – bietjie sinies.

Genis ·

Putin is skat ryk, dit gaan hom nie plan nie… Nes SA nie op Ramapadapot se radar is nie… skatryk, en dien nie die mense nie…

Delia ·

En sy familie sit veilig in Switserland.
Hoe aanvaar sy onderdane dit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.