Bekende Hollywood-akteur oorlede 

Leslie Jordan (Foto: Stefani Reynolds/AFP)

Leslie Jordan, ’n bekroonde Amerikaanse akteur en skrywer wat veral bekend was vir sy rol in die sitkom Will & Grace, is Maandag in die ouderdom van 67 oorlede.

Jordan was in ’n motorongeluk in Hollywood betrokke, het Don LeClair, een van sy agente, gesê.  Volgens berigte het hy moontlik ’n mediese noodgeval agter die stuur van sy motor gehad wat tot die ongeluk gelei het.

“Die wêreld is beslis vandag ’n baie donkerder plek sonder die liefde en lig van Leslie Jordan,” het LeClair in ’n verklaring gesê.

Jordan het ook in TV-programme soos American Horror Story, Murphy Brown en Ugly Betty verskyn.

In Will & Grace het hy die strydlustige Beverley Leslie vertolk en hy het in 2006 ’n Emmy-toekenning vir uitnemende gasakteur in die komediereeks gewen.

Jordan was ’n veelsydige kunstenaar en het in talle rolprente verskyn, waaronder The Help. Hy het verlede jaar ook ’n geestelike album vrygestel waar hy onder meer saam met Dolly Parton sing.

Aanhangers het sy dood aanlyn betreur. “Dankie vir al die glimlagte wat jy vir ons gegee het. Jy sal gemis word,” het een van hulle geskryf.

Jordan het in Chattanooga, Tennessee, grootgeword.

“Leslie Jordan was ’n Chattanooga-legende en nasionale skat wat vreugde en hoop vir miljoene gebring het,” het die stad se burgemeester Tim Kelly op Twitter geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

RIP Legend. “Karen Walker, I thought i smelled Gin and Regret”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.