Die bekende Amerikaanse ontwerper Kate Spade (55) is Dinsdagoggend dood in haar woning in Manhattan aangetref.
Die polisie se voorlopige ondersoek toon dat Spade moontlik haar eie lewe geneem het deur haarself te hang. Spade was ʼn bekende handsak-en-modeontwerper en ook ʼn voormalige redakteur van die Amerikaanse modetydskrif Mademoiselle.
Spade het in 1990 bekendheid verwerf met haar handsakreeks, en het daarop begin voortbou met ander bykomstighede wat later in honderde winkels wêreldwyd verkoop is.
Volgens BBC News het dié ontwerper se huishulp haar Dinsdagoggend bewusteloos in haar woonplek in Park Avenue aangetref.
Dermot Shea, die New York-polisie se speurhoof, het gesê ʼn brief is op die toneel gekry. Die inhoud daarvan is egter nie bekend gemaak nie. Shea het gesê leidrade op die toneel dui daarop dat dit ʼn “tragiese selfmoord” was.
Spade, wie se volle naam Katherine Noel Brosnahan was, het in 1996 die Kate Spade Handbag-handelsmerk saam met haar man, Andy, en ʼn vriend, Elyce Arons, begin. Die handsakke was helder en kleurvol met ’n kenmerkende skoppens-logo daarop.
Anna Wintour, hoofredaktuer van die modetydskrif Vogue, het Spade beskryf as iemand met ʼn “benydenswaardige vermoë om te verstaan presies wat vroue reg oor die wêreld in hul hande wou dra”.
Spade het haar handelsmerk in 2007 vir $2,4 miljard verkoop. Sy word oorleef deur haar man, Andy, en hul tienerdogter, Frances Beatrix.
Ai so n oulike vrou rus in vrede Kate !!!