Bekende natuurverskynsel verdwyn oornag

Azure-venster (November 2015) Foto: Xinhua/Jin Yu

Azure-venster (November 2015) Foto: Xinhua/Jin Yu

Malta se bekende Azure-venster, ʼn interessante rotsformasie, het oornag verdwyn. Die verskynsel is Woensdag deur sterk winde vernietig.

Joseph Muscat, eerste minister, was een van die eerste persone wat die nuus bekend gemaak het. “Verslae het oor die jare heen aangedui dat hierdie natuurverskynsel deur onvermydelike natuurlike erosie vernietig sal word. Die hartseer dag het aangebreek,” het hy op Twitter gesê.

Die asemrowende geografie in die gebied is geskep toe twee kalksteengrotte inmekaar gestort het.

Die boog, een van Malta se gewildste toeriste-aantreklikhede, is in verskeie flieks en in ʼn episode van die televisiereeks Game of Thrones gebruik.

Rowwe seetoestande het in Januarie 2016 gewys die boog is breekbaar toe golwe ʼn groot blad op die basis van een van die kranse afgebreek het.

Owerhede het in Januarie ʼn boete uitgereik vir enigiemand wat oor die rotsboog sou loop in ʼn poging om verdere disintegrasie te voorkom.

Die Azure-venster was ook baie gewild onder diepseeduikers.

Sterk winde het Dinsdag en Woensdag die Middellandse eiland geruk en selfs die ferriediens tussen Malta en Gozo is vir ʼn paar uur opgeskort.

Instagram-gebruikers het ook hul beste foto’s van die natuurverskynsel gedeel toe hulle die hartseer nuus verneem het. Klik hier om van die foto’s te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

Die woord “ferriediens” moet tog sekerlik “veerbootdiens” wees.

Peet Schabort ·

So ook het Mukorob (Vinger van God) in Des 1988 ineengestort in Namibië. Nou is die groot aantrekkingskrag die Vingerklip in die Ugabvallei. Wat ‘n voorreg vir my om beide te kon sien.
So werk die tand van die tyd met gesteentes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.