Bekende Nederlandse joernalis geskiet

Peter R de Vries (Foto: Bas Czerwinski / ANP / AFP)

’n Bekende Nederlandse misdaadverslaggewer “veg om sy lewe” in ’n hospitaal nadat hy Dinsdagaand in ’n straat in Amsterdam geskiet is.

Peter R de Vries is veral bekend vir sy ondersoeke na die kriminele onderwêreld en sy betrokkenheid by hoëprofielsake. Hy is vyf keer geskiet, waaronder een keer in die kop.

Femke Halsema, burgemeester van Amsterdam, het gedurende ’n mediakonferensie gesê De Vries “veg om sy lewe” terwyl die plaaslike polisie bevestig het dat die verslaggewer in ’n bedenklike toestand verkeer.

De Vries (64) is omstreeks 19:30 in Lange Leidsedwarsstraat geskiet kort nadat hy ’n ateljee in die middestad van Amsterdam verlaat het waar hy vroeër die aand op ’n geselsprogram verskyn het wat by dié ateljee opgeneem is.

Drie verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem in verband met die aanslag op De Vries se lewe, onder wie die vermeende skieter.

Premier Mark Rutte het intussen die voorval as “ skokkend en ondenkbaar” bestempel gedurende ’n mediakonferensie in Den Haag. Beterskapwense het intussen van oral oor Nederland instroom.

“Dit is ’n aanval op ’n moedige joernalis sowel as ’n aanval op persvryheid, wat só noodsaaklik is vir ons demokrasie en regstaat,” het Rutte gesê.

Die nooddienste Dinsdagaand op die toneel in Amsterdam waar Peter R de Vries geskiet is. (Foto: Evert Elzinga / ANP / AFP)

Ferdinand Grapperhaus, minister van justisie, het op sy beurt gisteraand gesê dit is ’n “swart dag” – nie net vir dié naby aan die gewonde verslaggewer nie, maar ook vir persvryheid.

“Ons wil hê dat joernaliste in Nederland in staat moet wees om ondersoek in te stel wat in volle vryheid moet plaasvind. Hierdie vryheid is vanaand ernstig geskend.”

Die komitee vir die beskerming van joernaliste het intussen ’n beroep op die owerhede gedoen om vas te stel of De Vries weens die aard van sy werk geteiken is en toe te sien dat die “aanvaller sowel as die meesterbreine agter die aanval” voor die gereg gebring word.

De Vries het al vantevore beskerming deur die polisie ontvang nadat hy dreigemente ontvang het rakende sy betrokkenheid as verslaggewer by hoëprofielstrafsake in die hof. Dit sluit in die destydse ontvoering van die biermagnaat Freddy Heineken in 1983.

De Vries het eindelik ’n boek oor die ontvoering geskryf wat later ’n film met die akteur Anthony Hopkins geword het.

Die misdaadverslaggewer was egter in 2016 genoop om ’n saak teen die berugte bendelid Willem Holleeder, een van die mans wat by die ontvoering betrokke was, aanhangig te maak nadat Holleeder doodsdreigemente teenoor hom gemaak het.

Holleeder dien intussen ’n lewenslange vonnis uit nadat hy in 2019 skuldig bevind is aan vyf moorde.

De Vries het ook al ’n internasionale Emmy gewen nadat hy daarin kon slaag om uit te pluis wat met Natalee Holloway, ’n Amerikaanse tiener wat in 2005 op die Karibiese Eiland Aruba verdwyn het, gebeur het.

Die bekroonde joernalis het tot onlangs nog opgetree as raadgewer vir Nabil B, ’n staatsgetuie wat getuig in ’n saak teen ’n vermeende dwelmbaas. Nabil B se prokureur, Derk Wiersum, is in 2019 in die straat voor sy huis doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Althes ·

So het elke land sy eie uitdagings. Ek hoop en bid die joernalis oorleef die aanval

Blikkies ·

En kyk hoe fluks het die Polisie sommer vinnig die skurke gevang. Bheki moet kyk hoe dit gedoen word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.