Bekende Nederlandse joernalis sterf ná skietery

Peter R de Vries (Foto: Bas Czerwinski / ANP / AFP)

Peter R. de Vries, ʼn bekende Nederlandse misdaadverslaggewer, is Donderdag dood ná hy verlede week geskiet is. Hy was “ʼn vreeslose vegter vir geregtigheid” ná hy in die 1980’s bekendheid verwerf het vir sy verslaggewing oor die ontvoering van die biermagnaat Freddy Heineken.

Die 64-jarige De Vries is op 6 Julie omstreeks 19:30 minstens vyf keer in ʼn besige straat in Amsterdam geskiet net toe hy ʼn televisie-ateljee verlaat het. Hy het vroeër die dag op ’n geselsprogram verskyn wat by dié ateljee opgeneem is. Hy was sedertdien in ʼn bedenklike toestand in die hospitaal.

“Hy was omring deur geliefdes toe hy gesterf het,” het sy familie in ʼn verklaring aan die RTL-uitsaaier gesê.

De Vries was bekend vir sy ondersoeke na die kriminele onderwêreld en sy betrokkenheid by hoëprofielsake.

Drie verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem in verband met die aanslag op De Vries se lewe, onder wie die vermeende skieter.

Die komitee vir die beskerming van joernaliste het ’n beroep op die owerhede gedoen om vas te stel of De Vries weens die aard van sy werk geteiken is en toe te sien dat die “aanvaller sowel as die meesterbreine agter die aanval” voor die gereg gebring word.

Die nooddienste Dinsdagaand op die toneel in Amsterdam waar Peter R de Vries geskiet is. (Foto: Evert Elzinga / ANP / AFP)

De Vries het al vantevore beskerming deur die polisie ontvang nadat hy dreigemente ontvang het rakende sy betrokkenheid as verslaggewer by hoëprofielstrafsake in die hof. Dit sluit in die destydse ontvoering van die biermagnaat Freddy Heineken in 1983. De Vries het eindelik ’n boek oor die ontvoering geskryf wat later (2015) ’n film met die akteur Anthony Hopkins, naamlik Kidnapping Freddy Heineken, geword het.

Die misdaadverslaggewer was egter in 2016 genoop om ’n saak teen die berugte bendelid Willem Holleeder, een van die mans wat by die ontvoering betrokke was, aanhangig te maak nadat Holleeder doodsdreigemente teenoor hom gemaak het. Holleeder dien intussen ’n lewenslange vonnis uit nadat hy in 2019 skuldig bevind is aan vyf moorde.

De Vries het in 1994 ook ʼn derde ontvoerder, Frans Meijer, in Paraguay opgespoor. Meijer is in 2002 aan Nederland uitgelewer.

De Vries het ook al ’n internasionale Emmy gewen nadat hy daarin kon slaag om uit te pluis wat met Natalee Holloway gebeur het, ’n Amerikaanse tiener wat in 2005 op die Karibiese Eiland Aruba verdwyn het.

Hy het tot onlangs ook nog opgetree as raadgewer vir Nabil B, ’n staatsgetuie wat getuig in ’n saak teen ’n vermeende dwelmbaas, Ridouan Taghi. Nabil B se prokureur, Derk Wiersum, is in 2019 in die straat voor sy huis doodgeskiet. Taghi word beskryf as Nederland se “mees gesoekte misdadiger”. De Vries het self in 2019 op Twitter gesê die polisie het hom in kennis gestel dat hy op Taghi se “skerpskutterlysie” is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack ·

Gedink dit gebeur net hier. Die onderwereld is soos n seekat tentakels rondom die aardbol. Die verskil natuurlik is dat n eerste wereld land die wil die intelligensie en kapasiteit het om die tentakels kort te hou en af te sny. By ons is die seekat se kop in die land gevestig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.