Bekende rockorkes se kitaar opgeveil

Oasis in 2006 (Foto: Mike Clarke, AFP)

Die hoofkitaarspeler van die bekende Engelse rockorkes, Oasis, se kitaar gaan volgende maand in Parys opgeveil word.

Noel Gallagher se rooi Gibson-kitaar is in 2009 net voor ’n Oasis-konsert in Frankryk agter die verhoog stukkend geslaan tydens ’n skermutseling tussen hom en sy broer, Liam, wat ook in die orkes was.

’n Skare aanhangers wat gestaan en wag het vir die konsert om te begin, moes hoor dat die orkes ontbind het en dat die konsert nie voortgaan nie. Dit sou die orkes se eerste vertoning in drie jaar wees. Die kitaar is intussen herstel.

Die orkes se einde was ook die begin van ’n jare lange vete tussen die twee broers. Liam was die hoofsanger van die groep en Noel het saamgesing, maar ook die kitaar getokkel.

Met ’n aanvangsprys van 150 000 euro (R2,4 miljoen), sê die afslaers die bod vir die kitaar kan 500 000 euro (R8 miljoen) bereik wanneer die veiling op 17 Mei plaasvind.

Oasis was in die 1990’s deel van die Britpop-beweging en het wêreldwye sukses behaal deur 60 miljoen albums te verkoop. Van hul bekendste treffers is “Wonderwall” en “Don’t Look Back In Anger”.

Nadat die orkes ontbind het, het die Gallagher-broers se paaie ook geskei en elkeen het sy eie musiekloopbaan op die been gebring.

Noel het in 2015 aan AFP vertel dat sy solowerk meer vervullend en lonend is. “Ek hou daarvan om in beheer te wees,” het dié musikant vertel.

Ná die groep se skeiding het Noel ’n kitaarmaker gesoek om sy stukkende instrument te herstel, ’n Gibson ES-355 wat in 1960 gebou is. Hy het dit bestempel as sy gunsteling uit al die kitare waarmee hy nog ooit gespeel het.

Hy het egter nou besluit om van die kitaar ontslae te raak omdat dit hom te veel aan Oasis herinner.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Delia ·

Mense moet hulle koppe laat lees. Ons prioriteite is verkeerd

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.