Bekende tromspeler (46) sterf

Joey Jordison op die Golden Gods-toekenningsgeleentheid by Club Nokia op 8 April 2010 in Los Angeles, Kalifornië. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images/AFP)

Joey Jordison, die voormalige tromspeler van die Amerikaanse heavy metal-groep Slipknot, is in die ouderdom van 46 oorlede.

Jordison se familie het in ʼn verklaring gesê hy het “vreedsaam in sy slaap gesterf”.

Die oorsaak van sy dood is nie bekend gemaak nie, maar die familie het bygevoeg dat hy hulle met “leë harte en die gevoel van onbeskryflike hartseer” gelaat het.

“Diegene wat Joey geken het, het sy skerpsinnigheid, saggeaarde persoonlikheid, groot hart en sy liefde vir alles wat familie en musiek behels het, verstaan,” lui die verklaring.

“Joey se familie het gevra dat vriende, aanhangers en die media ons behoefte vir privaatheid in hierdie ongelooflik moeilike tyd sal respekteer.”

Die familie beplan ʼn privaat begrafnisdiens.

Jordison was een van Slipknot se oorspronklike lede, wat die groep in 1995 saam met perkussiespeler Shawn Cruhan en basspeler Paul Gray gestig het.

Die groep het vier jaar later ʼn suksesvolle selfgetitelde album uitgereik en wêreldwyd miljoene kopieë verkoop. Die groep het ook hoofstroomsukses op die Amerikaanse treffersparades behaal en selfs ʼn Grammy-toekenning ingeoes.

Slipknot is bekend vir ʼn unieke, aggressiewe musiekstyl en vir die gruwelmaskers wat hulle tydens optredes dra.

Jordison was lid van die groep tot 2013. Hy het later onthul hy ly aan transverse miëlitis, ʼn vorm van veelvuldige sklerose.

Hy is gebore Nathan Jonas Jordison in Des Moines, Iowa, in 1975 en het op agtjarige ouderdom sy eerste tromstel as ʼn geskenk by sy ouers gekry.

Joey Jordison op die Golden Gods-toekenningsgeleentheid by Club Nokia op 8 April 2010 in Los Angeles, Kalifornië. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images/AFP)

Hy het musikaal grootgeword en het later by ʼn musiekprojek genaamd The Pale Ones aangesluit. Dié groep het uiteindelik Slipknot geword.

Jordison het sukses behaal saam met ander groepe wat hy gevorm het, onder wie Murderdolls, en het later saam met bekende groepe soos Metallica, Korn en Rob Zombie opgetree.

Sy dood kom net meer as ʼn dekade nadat medestigterslid Paul Gray aan ʼn dwelmoordosis dood is.

Aanhangers en medemusikante het huldeblyke op sosiale media gelewer ná die nuus van Jordison se dood aan die lig gekom het.

Serj Tankian, van System of a Down, het hom beskryf as “ʼn ongelooflike tromspeler en fantastiese ou”.

Corey Taylor, voorsanger van Slipknot, het ʼn swart fotoblok op sy sosialemedia-rekeninge geplaas.

Bronne: BBC, Rolling Stone

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jakez ·

Ja, onthou almal se musieksmaak verskil en hy was baie bekend in die metal geledere.

Lynette ·

Ja…te oordeel aan die naam ‘Klorina’ sou die dood van Bles Bridges groot nuus gewees het….aan die aanhangers van Metal, en daar is der miljoene van hulle, is hierdie nuuswaardig…selfs ek wat NIE heavy metal luister nie, erken die talent van hierdie man en vind dit nuuswaardig. Jammer, Klorina, probeer maar weer!

ONTPS ·

@Florina, As dit nie nuus was nie, sou jy nie die moeite gedoen het om die berig te lees en kommentaar te lewer nie…

Pieter ·

Een van die beste trom spelers van sy tyd. Joey en Chester Bennington van Linkin Park en Chris Cornel van Soundgarden was vir my persoonlik n paar van die groottes wat oorlede is in die rock/metal musiek genre.

OW ·

Keith Moon van The Who word ook gereken onder die grotes van rock.Hy was maar ‘n rowwe man maar sy werk as tromspeler gee my vandag nog genot om na te luister.Hy is op 32 in 1978 oorlede.

Deonne ·

Ja Jong, wat kan n mens nou se’? Die man was defnitief gereken as van die beste tromspelers nog, al was hy lid van n baie omstrede groep, ( wie onthou die swaard voorval n paar jaar terug hier in een van ons skole?, die tiener het n “Slipknot” masker aangehad, het Slipknot se musiek n invloed op sy lewe gehad? ons weet nie.) Die punt bly staan dat Joey, was n kunstenaar met baie talent en ons kan hom respekteer op daai feit , hoe jy oor die groep Slipknot voel? Dit bly jou persoonlike opinie.

Pieter ·

jip jip. Dis maar dieselfde argument van geweldadige videospeletjies se invloed op kinders, vir 99% van ons, was dit net fiksie en jy het nie jouself so in geleef daarop nie, en die musiek was meer uitlaat sisteem vir jou gevoelens. Ek het self na Slipknot geluister, ek luister nou nog na hulle so tussen deur my Spotify playlists van Riaan Benade, appel, Robbie Wessels, en Jo Black ;) maar ja om tot by die punt te kom, ek het nog nooit in my lewe wat ek videospeletjies speel of Slipknot geluister het die begeerte gekry om iemand skade aan te doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.