Bekende Zim-figuur, 4 ander sterf in heli-ongeluk

Roy en Heather Bennett in 2009. Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi, File

Roy Bennett (60), medestigter en voormalige tesourier van Zimbabwe se MDC, en sy vrou het in ʼn helikopterongeluk omgekom.

Volgens die BBC is Bennett, sy vrou, Heather (55), en drie ander mense dood toe die helikopter in ʼn bergagtige gebied in die Amerikaanse staat Nieu-Mexiko neergestort het. Een persoon het die ongeluk oorleef.

Nelson Chamisa, adjunkpresident van die MDC, het aanvanklik gesê die ongeluk het in Kanada plaasgevind, maar daar is later bevestig dit was in Nieu-Mexiko. “Ek is platgeslaan oor dié tragiese nuus,” het hy op Twitter gesê.

Bennett was in 2000 net een van drie wit Zimbabwiërs wat tot die parlement verkies is. Hy is in 2004 tot meer as ʼn jaar tronkstraf gevonnis ná ʼn onderonsie in die parlement. Hy is in Junie 2005 vrygelaat nadat hy agt maande van sy vonnis uitgedien het.

Bennett en sy vrou is in 2011 gewelddadig van hul plaas verwyder. Heather was glo drie maande swanger en het ʼn miskraam gehad nadat sy glo rondgestamp is.

Bennett het politieke asiel in Suid-Afrika gekry, maar is later terug Zimbabwe toe. Hy is weer in hegtenis geneem op aanklag van verraad maar is later vrygespreek. Hy het daarna in ballingskap in Suid-Afrika gewoon.

SkyNews berig Charles Burnett III (61), ʼn sakeman van Houston wat in Brittanje gebore is, is ook in die ongeluk dood. Volgens die berig is die ander twee slagoffers die vlieëniers Jamie Colman Dodd (57) en Paul Cobb (67).

Andrea Cobb, Paul Cobb se dogter wat in ʼn verhouding met Burnett was, het die ongeluk oorleef. Volgens berigte was die groep op pad na Burnett se plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wil graag weet ·

Wie is die sepie ster wat in die weem in gru ongeluk gesterf gt ..kan maroela asseblief vir ons sè

Tania Heyns ·

Dagsê Wil graag weet

Dankie vir jou kommentaar. Die Australiese aktrise Jessica Falkholt (29) bekend om haar rol in die sepie ‘Home and Away’ is dood nadat sy drie weke gelede in ‘n ernstige motorongeluk was.

Koos ·

Jessica se ma, pa en suster is in die ongeluk op 26 Desember oorlede en Jessica is Woensdag (17 Jan) oggend oorlede. Dis n Australiese sepie waarin sy speel. Die ou verantwoordelik vir die ongeluk is ook oorlede en het n klomp pad oortredings agter sy naam en was veronderstel om nie eers op die pad te wees nie, so ver ek kan onthou is sy lisensie opgeskort gewees. Dit alles deur een ou wat nie omgegee het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.