Bekroonde nuusfotograaf verloor kankerstryd

Yannis Behrakis tydens ʼn besoek in Oktober 2016 aan Normandy in Frankryk. (Foto: Enric Marti/AP)

Yannis Behrakis, die wêreldbekende en bekroonde nuusfotograaf wat ʼn Pulitzer-prys vir sy werk ontvang het, is in die ouderdom van 58 dood.

Reuters het bevestig Behrakis is Saterdag dood. Behrakis het by sedert 1987 by Reuters gewerk en het ʼn lang stryd teen longkanker geveg.

Behrakis is in 1960 in Athene, Griekeland, gebore en het daar aan ʼn private skool fotografie studeer en later in ʼn ateljee gewerk voordat hy uiteindelik sy droom bewaarheid het om nuusfotograaf te word. Sedert 1989 het hy foto’s geneem reg oor Europa, die Midde-Ooste en Afrika en is dikwels na oorlogsgebiede gestuur om verslag te doen.

In 2000 is hy en sy kollega, Mark Chisholm, vermoedelik deur rebelle in Sierra Leone in ʼn lokval gelei en hulle kon net-net daarin slaag om te ontsnap. Kurt Schork, hulle ander Reuters-kollega en ʼn goeie vriend van Behrakis, asook kameraman Miguel Gil Moreno is om die lewe gebring.

Yannis Behrakis kyk na teenregeringsbetogers in Tahir-plein in Kaïro, Egipte. Dié foto is in Februarie 2011 geneem. (Foto: Lefteris Pitarakis/AP)

Behrakis het ʼn span fotograwe gelei om dekking te gee aan die vlugtelingskrisis wat vir hom in 2016 die Pulitzer-prys besorg het. Hy het ook in 2000 die gesogte World Press Photo-toekenning gewen, die Bayeux-Calvados-toekenning vir uitsonderlike oorlogskorrespondente in 2016 en is in 2015 aangewys as die Guardian se fotograaf van die Jaar.

Een van sy aangrypendste en onvergeetlike foto’s is van ʼn Siriese pa wat sy dogter in sy arms dra en haar op haar kop soen terwyl hy in die reën na Griekeland se noordelike grens stap. Al Jazeera berig Behrakis het later gesê dié foto is vir hom ʼn bewys dat daar wel superhelde bestaan, ʼn uitbeelding van die universele onvoorwaardelike liefde van ʼn pa teenoor sy dogter.

Hy het destyds aan die Pulitzer-paneel gesê sy doel is om ʼn storie te vertel en die leser of kyker te laat besluit wat hulle daarmee wil doen. “My oogmerk is om seker te maak niemand kan sê: ‘Ek het nie geweet nie’.”

Een van Behrakis se mees onvergeetlike foto’s is dié van ʼn Siriese pa wat sy dogter in sy arms dra en haar op haar kop soen terwyl hy in die reën na Griekeland se noordelike grens stap. (Foto: Yannis Behrakis/Reuters)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Agie ·

Jip. Sulke helde is werklik. Ek’s met een getroud. GENADE onbeskryflik groot

julius ·

Ek hou baie van die manier hou stories vertel word en is baie mooi

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.