Belarus-atleet verkoop medalje vir duisende

Krystsina Tsimanouskaya. (Foto: Wojtek Radwanski/AFP)

ʼn Belarus-atleet, wat vroeër vandeesmaand in Belarus se spervuur was nadat sy die land se atletiekfederasie by die Olimpiese Spele in Tokio gekritiseer het, het vandeesweek haar silwer medalje vir duisende dollars verkoop.

Krystsina Tsimanouskaya (24), ʼn Olimpiese naelloper, het tydens vanjaar se spele Belarus se atletiekfederasie gekritiseer omdat dié haar glo by ʼn afloswedren ingeskryf het sonder om haar daarvan in kennis te stel.

Tsimanouskaya beweer dat haar afrigters haar met geweld wou terugstuur na haar outoritêre tuisland, maar Pole se eerste minister, Mateusz Morawiecki, het die jong atleet te hulp gesnel.

Sy is na die Poolse ambassade in Japan geneem en is kort daarna met ʼn humanitêre visum na Warskou in Pole geneem. Tsimanouskaya se man, Arseny Zdanevich, het ná die voorval na die Oekraïne gevlug.

Die voorval het daartoe gelei dat Tsimanouskaya nie aan die 200 m-naellope kon deelneem nie.

Lande wêreldwyd het die politieke skandaal vergelyk met dié van die Sowjetunie wat destyds dislojale atlete huis toe gestuur het nog voordat hulle aan byeenkomste kon deelneem.

Sedert die skandaal het Tsimanouskaya die silwer medalje wat sy by die Europese Spele in 2019 verower het, verkoop om atlete by te staan wat soos sy aan die hand van die Belarussiese regering moes ly.

Die medalje is vandeesweek aan ʼn Amerikaanse koper op die aanlyn handelsplatform eBay verkoop vir $21 000 (meer as R300 000).

Die Belarussiese sportsolidariteitstigting, ʼn organisasie wat Belarussiese atlete ondersteun wat deur die regering te na gekom is, het gesê die medalje het baie belangstelling ontlok.

“Ek het nie gedink dit sal vir soveel geld verkoop word nie, maar ek is bly dat dit ʼn positiewe verskil in soveel Belarussiese atlete se lewe gaan maak,” het Tsimanouskaya gesê.

Belarus is steeds in chaos gedompel nadat betogings verlede jaar uitgebreek het toe die verkiesingsuitslae bekend gemaak is. Die outoritêre president van Belarus, Alexander Lukashenko, is verlede jaar herverkies vir sy sesde agtereenvolgende termyn. Hy is al 26 jaar lank aan bewind.

Amerika se president, Joe Biden, het onlangs nog sanksies teen die land ingestel weens Lukashenko se voortdurende aanval op die demokratiese ideale en menseregte van die Belarussiese bevolking.

Die volgehoue onrus het daartoe gelei dat Belarus nie vanjaar se yshokkie-wêreldkampioenskapbyeenkoms sal aanbied nie. Dié land word ook verbied om verdere Olimpiese byeenkomste by te woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

MM, in atletiek praat mens van ‘n wedloop, nie ‘n wedren nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.