Beleef aarde ‘n stil aardbewingjaar?

Die skade aan 'n gebou in Concepcion, Chile ná die aardbewing van 8.8 op 27 Februarie 2010 Foto: boston.com

Die skade aan ‘n gebou in Concepcion, Chile ná die aardbewing van 8.8 op 27 Februarie 2010 Foto: boston.com

Met minder as drie maande oor voor die einde van die jaar het die aarde vanjaar, wat werklike sterk aardbewings betref, heelwat minder aardskuddings beleef as die afgelope aantal jare. Tot dusver is net agt gemeet van 7 of meer op die momentmagnitudeskaal, teenoor 20 of meer die voorafgaande aantal jare.

Die aarde beleef juis nou weer ’n stil tydperk van selfs veel swakker aardbewings. Die laaste relatief groot aardbewing was op 17 September, toe ’n skudding van M6,8 op die eiland Guam voorgekom het.

Die laaste aardbewing van M7 of meer vanjaar was op 23 Junie in Alaska. Voor dit was die laaste in April vanjaar – byna al die werklike groot aardbewings vanjaar was in die eerste drie en ’n half maande van die jaar.

Dit beteken egter nie dat rampspoedige aardbewings nie vanjaar nog kan voorkom nie. Verskeie studies dui daarop dat die spanning in die verskuiwingsvlak van vanjaar se ergste aardbewing, een van M8,2 op 1 April by Iquiqie in Chili, nog lank nie die opgeboude spanning laat “ontsnap” het nie. Dit selfs nadat die grote deur nog ’n bielie van M7,7 opgevolg is, en naskokke steeds voorkom. Nog minstens een van sterker as M8 sal eers die spanning verlig.

Nog ander plekke is deur die USGS uitgewys as plekke waar ’n grote aan die opbou is, waaronder die Karibiese See. Die navorsing het trouens getoon dat die potensiaal groter is as wat gemeen is. Die gebied sal met so ’n groot aardbewing ook baie blootgestel wees aan tsunami’s.

Een van die sterkste aardbewings die afgelope 24 uur, een van ‘n beskeie M5,1, was “naby” Suid-Afrika – sowat 2 000 kilometer suidoos van die land op die Mid-Indiese rif. ’n Effense sterker skudding van M5,2 het 24 kilometer van Murupara in Nieu-Seeland voorgekom.

Ysland het steeds feitlik daagliks minstens een skudding van M5 sedert die jongste vulkaniese uitbarstings begin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.