België-aanvalle: Selfmoordbom bevestig; grens tussen België en Frankryk gesluit

Persone vlug ná die ontploffings by Brussels-lughawe op 22 Maart 2016 (Skermskoot uit Twitter-video deur @AmichaiStein1)

Persone vlug ná die ontploffings by Brussels-lughawe op 22 Maart 2016 (Skermskoot uit Twitter-video deur @AmichaiStein1)

JONGSTE: Sputnik-nuusagentskap het intussen bevestig die grens is nie gesluit nie. LEES MEER
Die grens tussen Frankryk en België is Dinsdag gesluit ná bomontploffings in Brussel.

“Die Frans-Belgiese grens is gesluit en veiligheidsmaatreëls is ook opgeskerp by kernaanlegte in België,” het die plaaslike RTBF-uitsaaier berig.

Owerhede het Dinsdag die Belgiese hoofstad afgesper ná ontploffings by die Brussel-lughawe en ondergrondse treinstelsel.

Die Brussel-polisie het intussen ook bevestig daar is sterftes by die metrostasie, maar wou nie die aantal bekend maak nie. VRT-uitsaaier het berig 10 persone is dood by die metrostasie. Derniere Heure-koerant het intussen berig minstens 15 persone is dood by die Maelbeek-metrostasie.

Die Associated Press berig minstens 13 persone is dood by die lughawe.

Maroela Media het vroeër berig België het sy terreurwaarskuwing tot op sy maksimumvlak aangekondig en vliegtuie en treine word herlei en persone word beveel om te bly waar hulle is.

Lughawens dwarsoor Europa het hul veiligheid opgeskerp.

Reddingswerkers buite die metrotreinstasie in Brussels ná 'n ontploffing op 22 Maart 2016 (APTN via AP)

Reddingswerkers buite die metrotreinstasie in Brussel ná ‘n ontploffing op 22 Maart 2016 (APTN via AP)

Die staatsaanklaer se kantoor in Brussel het intussen bevestig dat dit ʼn terreuraanval van ʼn selfmoordbomplanter was. Dit kom ʼn paar dae ná die hoofverdagte in die aanvalle in November in Parys, Frankryk, in Brussel in hegtenis geneem is. Salah Abdeslam het aan owerhede gesê hy het ʼn nuwe netwerk gebou en beplan nuwe aanvalle.

Die dak by Brussel-lughawe het meegegee ná twee ontploffings die gebou geruk het. Ooggetuies het aan die Associated Press gesê een van die ontploffings was by die betaaltoonbank vir oortollige bagasie en die ander ontploffing naby ʼn Starbucks-kafee. Alle vlugte is gekanselleer.

Veiligheidsbeamptes in Europa was al weke lank gereed vir ʼn groot aanval, en het gewaarsku dat die Islamitiese Staat (IS) gereed maak vir ʼn aanval. Ná Abdeslam Vrydag in hegtenis geneem is, het die vrese toegeneem, aangesien ondersoekbeamptes daarop gewys het dat nog talle ander persone ook betrokke was in die aanvalle op 13 November toe 130 persone in Parys gesterf het. Talle van dié persone is nog op vrye voet.

Niemand het nog aanspreeklikheid aanvaar vir Dinsdag se aanvalle in Brussel nie.

Zach Mouzoun, wat 10 minute voor die eerste ontploffing van Genève geland het, het aan BFM-televisie gesê die plafon het met die tweede slag inmekaar gestort en van die waterpype het gebars. “Dit was verskriklik. Die plafonne het meegegee. Daar was oral bloed, beseerde mense, bagasie,” het hy gesê. “Ons het in die puin geloop, dit was soos ʼn oorlogstoneel.”

ʼn Tydelike behandelingsentrum is reeds in ʼn kroeg opgestel by die ingang na Maelbeek-stasie, naby die hoofkantoor van die Europese Unie. Verwarde en geskokte oggendpendelaars het uit die stasie gestroom terwyl die polisie probeer het om ʼn veiligheidsversperring te installeer.

“Die metro was besig om uit Maelbeek-stasie te vertrek op pad na Schuman toe daar ʼn groot ontploffing was,” het Alexandre Brans (32) gesê, terwyl hy bloed uit sy gesig gevee het. “Daar was oral paniek. Daar was baie mense in die metro.”

Francoise Ledune, woordvoerder vir Brussel Metro, het gesê daar was net een ontploffing by die treinstasie, in ʼn trok wat by Maelbeek gestop is.

https://youtu.be/3hY5Xl-MtvE

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

EMK ·

Lafaards wat sulke dinge aan onskuldige mense doen. Lafaards!

Hennie ·

Als te danke aan Merkel en die EU met hul oop deur beleid!

Pieter.v ·

Dit is wat gebeur as jy jou grense oop gooi vir die sg. vlugtelinge,wat te lafhartig is om tuis te bly en hul regte te verdedig in hul eie lande,terwyl hul verweer is dat hulle vervolg word,nou is die vraag hoekom bomme in ander lande plant terwyl hulle dit teen die regerings wat hulle sg, verdruk, kon gebruik het, daar sal opgelet word dat die meeste “vlugtelinge “mans is en hulle word in hul gasheer lande versorg en kry welsyn toelaes , hulle kla dis nie genoeg, kla oor die kos en bly plek.Die media en die polisie hou inligting van aanrandings en verkragtings van die publiek deur dit nie in koerante en op Tv uit te saai nie. Die meisies en vroue wat verkrag word ,word gestenig deur die media dat hulle onbehoorlik geklee is en moet aanvaar dat dit moslem kultuur is dat vroue aan hulle onder geskik is en dat die aanrandings en verkragting normaal is in moslem lande.

Steven van Zyl ·

Kan jy asb jou bron bevestig wat sê dat daar enige grense gesluit is? Ek sien niks op die hoof nuss kanale nie, en die enogste bron wat ek opspoor is ‘n radiostasie en daar is geen manier om hulle stelling te bevestig nie.

Dankie

Sune van Heerden ·

Dagsê Steven

Ek vra om verskoning vir die oorsig, die hoofbron vir ons berig was uit die Associated Press (die berig is nou gewysig om dit só aan te dui – dankie dat jy ons daarop gewys het.

Sputnik het via die African News Agency bevestig dat die grens gesluit is, volgens die plaaslike RTBF-uitsaaier.
Kyk gerus ook hier:
RT: https://www.rt.com/news/336595-belgium-highest-terror-alert/
Sputnik: http://sputniknews.com/europe/20160322/1036727136/belgium-france-border-nuke.html
Scott: http://www.sott.net/article/315006-A-first-Highest-level-terror-alert-in-Belgium-borders-to-France-Netherlands-reported-closed

Dave Keating (@DaveKeating), ‘n Amerikaanse verslaggewer, het egter intussen op Twitter aangevoer volgens die ministerie vir binnelandse sake is die grens egter nie gesluit nie: https://twitter.com/DaveKeating/status/712229984937582592

Sodra ons verdere bevestiging hieroor ontvang, sal Maroela ‘n opgedateerde weergawe publiseer.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Piet Pompies ·

Geen persoon het die reg om ander se lewe te neem, hierdie is ‘n tragedie.

Jef ·

Nederlandse nuus bevestig dat hulle geen berig gewing gee oor die afsluit van grense nie, wel by verkillende grensposte verskerpte kontroles word uitgevoer,verder word geen verdere informasie verstrek nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Jef

Veiligheidsmaatreëls op die grens tussen Frankryk en België is opgeskerp, maar ʼn bron in die Belgiese krisissentrum het intussen aan Sputnik-nuusagentskap gesê die grens is nie gesluit nie. Lees meer: http://maroelamedia.co.za/nuus/wereld/belgie-frankryk-grens-bly-oop/ Ons vra om verskoning vir die verwarring, dit was nie ons bedoeling om foutiewe inligting te berig nie. Dit wat ons berig het, was wat in daardie oomblik aan ons beskikbaar was, en wat ons kon bevestig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Marlize Leyden ·

Let op: Die lughawe is Zaventem en nie Zaventen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.