België het oplaas ʼn nuwe federale regering, 493 dae na die verkiesing.
Die sewe partye het uiteindelik ooreengekom oor die vorming van ’n volledig funksionerende meerderheidsregering onder leiding van die nuwe premier Alexander de Croo.
Dit is nie die eerste keer dat België so moes klippe kou om tot ’n regeerakkoord oor te gaan nie. België was ook al voorheen vir 249 dae sonder ʼn regering. Dié land se rekord sonder ʼn regering is egter 589 dae.
“Dit is die beginpunt vir ’n nuwe manier van politiek, met meer pragmatisme, samewerking en veral meer respek,” het De Croo gesê.
Gelukkig het België oor die afgelope aantal jare van ’n unitêre staat tot federale staat gevorder. Dit beteken dat ten minste die twee groot dele, Wallonië en Vlaandere, elk ’n groot sê oor hul eie sake het, en sake oor die algemeen nie werklik onregeerbaar maak nie.
De Croo (44), lid van die Open Vld, is ondanks sy ouderdom reeds ’n veteraan in die Belgiese politiek en hy was visepremier in die uittredende regering. Hy is die eerste Nederlandssprekende premier in nege jaar.
Om die nuwe regering te kon vorm, moes die sewe deelnemende partye ’n regeerakkoord vorm, wat as die Vivaldi-akkoord bekend staan. Die laaste knope is tydens ’n marathonvergadering van 21 uur deurgehaak.