België, Nederland verwag ook betogings

‘n Drom brand waar skoliere in Parys betoog (7 Desember 2018) (Foto: AP Photo/Thibault Camus)

Die Franse Geelbaadjie-beweging is besig om grense oor te steek en betogings word ook vir België en Nederland beplan.

Nie een van die twee lande het ʼn brandstofprysverhoging voorgestel nie, die katalisator wat aanleiding gegee het tot gewelddadige betogings in Frankryk die afgelope paar weke.

Honderde polisiebeamptes is Saterdag in Brussel ontplooi waar Geelbaadjie-betogers verlede week met polisiebeamptes gebots en twee polisievoertuie aan die brand gesteek het. Meer as 70 persone was in aanhouding.

Ilse van de Keere, woordvoerder van die polisie in België, het aan die Belga-nuusagentskap gesê die polisie monitor sosialemedianetwerke vir inligting oor betogings, omdat die Geelbaadjies “weier om in gesprek te tree met die polisie of die stad” om hul aktiwiteite te organiseer.

Sommige betogings het buite Europese Unie-instansies plaasgevind, wat op Saterdae gesluit is.

Maroela Media het vroeër berig die Eiffeltoring, die Louvre-museum en verskeie winkels in Parys het as ʼn voorsorgmaatreël hul deure Saterdag gesluit. Polisiebeamptes moes Saterdag in Parys van traangas gebruik maak om betogers onder beheer te bring.

Buiten die verhoging in brandstofpryse betoog die groep ook teen lone, hoër lewenskoste en ander griewe. Pres. Emmanuel Macron het reeds die styging in brandstofpryse laat vaar, maar dit het nie die ontstoke betogers tot bedaring gebring nie.

Die geel baadjies wat die betogers dra is ʼn verwysing na die neonkleurige veiligheidsbaadjies wat Franse motoriste in hul voertuie hou.

Ná twee naweke van geweld in Parys waar dit gelyk het of die polisie magteloos is om die hoofstad te beskerm, is 8 000 onlustebeheer-polisiebeamptes Saterdag in Parys ontplooi. Die polisie het persone en sakke elke paar honderd meter in die middestad deursoek en gasmaskers en veiligheidsbrille van verslaggewers van die Associated Press gekonfiskeer.

Ongeveer 89 000 polisiebeamptes is landswyd in Frankryk ontplooi. Saterdag teen 12:00 was meer as 500 persone reeds in aanhouding in Parys, aldus ʼn polisiewoordvoerder. Geen beserings is aangemeld nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Tilla ·

Soos ek gesê het in die “Bly of gly” diskoers, waar sal mens tog veilig wees in die wêreld? Die wêreld is op sy kop. Of jy nou hier is of daar in ‘n ander land, daar is sekere dinge wat nie in jou beheer is nie.

Nederkaner ·

Jy het die part gelees waar daar geen beserings aan gemeld is nie?

Groesbeeck ·

Die Europese lente is hier. Onthou julle die Arab spring? Nou ja. Dit het niks met brandstof verhogings of die of daai te make nie. Hier is die bewys.

Vuurhoutjie ·

Het hulle by S.A of S.A by hulle geleer hoe n vuurhoutjie werk.

humor ·

Plaas hulle betoog oor iets baie meer sinvol nl. die oorspoeling van ongewensde vlugtelinge uit Middeooste en Afrika

WitBlits ·

Die mentaliteit is dieselfde waar jy gaan met inval van Europa! Maak die grense oop…..

Twakkie ·

Humor, dit is juis waaroor hulle betoog. Jy gaan dit net nie in die linkse hoofstroommedia lees, sien of hoor nie. Konserwatiewes oral in Europa is sat vir hul linkse regerings se oop grense en die massa migrante wat almal op toelaes leef, wat belastings van gewone burgers enorm opstoot. Dikwels gekamoefleer as “groen” maatreëls en wette, soos dié “koolstoftaks”. Weens die mag van die linkse hoofstroommedia behandel polisie gewelddadige migrante met handskoentjies maar onderdruk opstand van “regses” met uitermatige geweld, soos waterkanonne, massas polisie en inhegtenisnemings. ‘n Mens móét die “alternatiewe” groepe (nie mallerige enkelinge nie!!) op sosiale media volg om te weet wat regtig aangaan.

Ben ·

In elk geval is die crime en die moorde nie so hoog soos Suid-Afrika nie.

John ·

Jy bedoel die Europese winter. Dis bloot ‘n vertoon van dankbaarheid vanaf die sg vlugtelinge vir die nuwe lekker lewe in Europa of nee, eintlik woede dat daar weer slawehandel is en mense teen hul sin weggevoer word uit hulle weelderige tuistes na die sluwe Westerse lande… soos in die ou dae… en sonder betaling moet swoeg en saans sonder kos vasgeketting word in diepe kerkers… Hoe die geelbaadjies losgekom het vir die betogings? Seker weer die bose Putin en Trump wat dit bewerk het… julle weet mos….

Arie ·

Stuur daai geel ouens Suid-Afrika toe en binne ‘n week sal hulle besef hulle is verkeerd

Christiaan ·

Daar was geen onluste in Nederland nie, maar in België en Frankryk. Daar is ook dood en baie beseer in Frankryk. Mense demonstreer teen die belastingverhogings, die gaping tussen ryk en arm en baie mense is teen die ondertekening van die verdrag van Marakesh. Hulle verwag dat na die ondertekening ‘n selfs groter groep asielzoekers na Europa sal kom en dat hulle nie meer terugbesorg kan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.