België sluit Kinder-fabriek oor salmonella

Kinder Surprise-sjokolade-eier (Foto: VSA Doeane- en grensbeheerbeskerming via Wikimedia Commons)

Belgiese owerhede het Vrydag ʼn Kinder-sjokoladefabriek gesluit wat vermoedelik verantwoordelik is vir ʼn rits salmonella-gevalle in verskeie Europese lande en die VSA.

Die besluit en gesondheidskwessies is ʼn terugslag vir die eienaar, die Italiaanse lekkergoedreus Ferrero. Dit kom net tydens die Paasseisoen waar sy Kinder-sjokolade baie gesog is.

Ferrero het in ʼn verklaring gesê hy vra “innig om verskoning” vir die rits salmonella-gevalle en bevestig dat sy bedrywighede in die suidoostelike dorp Arlon opgeskort is.

België se voedselveiligheidsowerheid, Afsca, het in ʼn verklaring gesê die aanleg is gesluit “ná bevindings dat inligting wat deur Ferrero verskaf is, onvolledig was”.

Die aanleg se algehele vervaardiging van die maatskappy se gewilde Kinder-handelsmerk is herroep.

Die organisasie “sal slegs toestemming gee om weer die aanleg oop te maak ná daar bevestig is dat die instansie voldoen aan alle voedselveiligheidsreëls en vereistes”.

David Clarinval, minister van landbou in België, het gesê só besluit word nooit ligtelik geneem nie, maar die huidige omstandighede het dit genoodsaak. “Die voedselveiligheid van ons burgers kan nooit afgeskeep word nie.”

Ferrero sê hy “erken dat daar interne ondoeltreffendhede was, en dit het gelei tot ʼn vertraging om inligting betyds te ontvang en te deel”.

Die aanleg se vervaardiging van Kinder Surprise, Kinder Mini Eggs, Kinder Surprise Maxi 100 g en Kinder Schoko-Bons word “met onmiddellike effek” opgeskort.

“Ons is baie jammer hieroor. Ons vra groot om verskoning vir al ons verbruikers en sakevennote en bedank die voedselveiligheidsowerhede vir hul waardevolle leiding,” het Ferrero bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig die maatskappy, wat ook Nutella en Tic Tac-lekkers vervaardig, het Donderdag sekere variante van sy Kinder-sjokolades in die VSA herroep wat in België vervaardig is. Die maatskappy het vroeër vandeesweek ook sy produkte in die Verenigde Koninkryk en ander Europese lande herroep.

Salmonella is ʼn tipe bakterie wat simptome veroorsaak soos diarree, koors en maagkrampte in volwassenes. Dit is een van die mees algemene infeksies wat deur kos versprei word. Meeste gevalle word veroorsaak wanneer kos ingeneem word wat besmet is met diere- of menslike ontlasting.

Brittanje se Voedselstandaardagentskap het gesê 63 gevalle van salmonella is in die VK aangemeld. Minstens 21 gevalle is in Frankryk aangemeld en 15 daarvan het Kinder-produkte geëet wat nou herroep is, aldus die Franse staatsgesondheidsdiens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.