Belowende musiekstudent in NY vermoor

Elizabeth Howell [Foto; Twitter]

ʼn 21-jarige musiekstudent is Vrydag in die dorp Potsdam – in die noorde van New York in die VSA – doodgeskiet. Een persoon is die afgelope naweek in verband met dié skietvoorval in hegtenis geneem.

Elizabeth Howell, ʼn senior student aan SUNY Potsdam se Crane School of Music in New York, is geïdentifiseer as die slagoffer van die skietery wat Vrydag naby die kampus plaasgevind het. Howell, wat die bynaam “Beth” gehad het, was ʼn tjellis wat saam met die Crane-simfonieorkes opgetree het. Sy was veronderstel om vanjaar haar graad te behaal.

ABC News berig met polisiebeamptes se aankoms omstreeks 18:00 op die toneel, het hulle Howell bewusteloos met skietwonde aangetref. Sy is na die Canton-Potsdam-hospitaal vervoer, waar sy dood verklaar is. Owerhede het nie besonderhede oor die omstandighede van die skietery verskaf nie.

Michael J Snow (31) van Massena, New York, is ʼn dag later in hegtenis geneem in verband met Howell se moord. Hy word van tweedegraadse moord aangekla.

Snow het in die hof verskyn en sy borgtogaansoek is van die hand gewys.

Volgens die universiteit is Snow nie aan hulle verbonde nie, en dit is onduidelik hoe hy en Howell verbind is.

Volgens CBS New York is die motief rakende die moord in hierdie stadium nie bekend nie.

Dr. Phil Neisser, die president van SUNY Potsdam, sê Howell was ʼn aspirant-opvoeder met ʼn blink toekoms. “Saam eer ons haar lewe en betreur ons haar verlies,” het Neisser gesê.

Michael J Snow (31) van Massena, New York, is ʼn dag later in hegtenis geneem in verband met Howell se moord [Foto: Twitter]

Die kampus is Maandag vir alle studente gesluit.

“Die hele SUNY Potsdam-kampus betreur dié groot verlies, en ons staan saam in eenheid om Howell te onthou,” het die universiteit in ʼn verklaring geskryf.

Die New York Post berig Howell se ouers het gesê hul dogter was waarskynlik ʼn toevallige slagoffer op die “verkeerde plek, verkeerde tyd” toe sy net buite die kampus doodgeskiet is.

“Sy was die soort persoon wat nie vyande gehad het nie, en beslis niemand wat haar sou wou doodmaak nie,” het haar pa, Joe Howell, gesê.

Volgens Joe en sy vrou, Ann, was Howell ʼn aktiewe lid van die gemeenskap. Sy het geswem, ballet gedoen, was ʼn lewensredder en het haar passie vir musiek deur haar tjello uitgeleef.

“Sy was ʼn wonderlike jong dame, ʼn talentvolle musikant, ʼn dierbare vriendin, en net ʼn goeie mens. Sy was altyd bereid om jou te help,” het haar pa gesê.

Volgens Ann was Howell ʼn empatiese mens vol deernis. “Sy was in dieselfde asem ook ʼn sterk mens,” sê sy.

Howell word oorleef deur haar ouers en drie sibbe.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Christine ·

RIV pragtige mens. Nog ‘n kosbare mens wat ‘n positiewe bydrae tot die samelewing bied, se lewe kortgeknip aan die hand van ‘n nikswerd. Verkeerde tyd op die verkeerde plek, ja dis New York daai.

Charl ·

Wat is 2de graadse moord ?? Sy’s met opset doodgeskiet, nie per ongeluk nie en die moordenaar kan nie van strafbare manslag aangekla word nie so hoe word moord nou per graad geklassifiseer ??? Moord bly moord maak nie saak hoe jy daarna kyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.