Belowende navorsing oor outisme-behandeling

outisme

Foto: Autismepicenter.com

’n Verband tussen die brein en die maag hou belowende resultate in vir die behandeling van sowat die helfte van outismegevalle, naamlik waar die lyer ook ’n verskeidenheid spysverteringsprobleme het.

Tussen 30 en 50% kinders wat outisties is, het ernstige maag- en spysverteringskwale soos hardlywigheid, diarree of akute maagpyn.

Volgens Medical News Today word ongeveer een uit elke 68 kinders in die VSA tans met outisme gediagnoseer, ʼn toename in vergeleke met die een uit elke 150 in die jaar 2000. Seuns is vyf keer meer geneig as meisies om outisme te ontwikkel.

Outisme word deur een van ’n hele aantal genetiese mutasies of enkele chromosoomdefekte veroorsaak. Vir diegene wie se outisme met spysvertering- en maagprobleme gepaard gaan, is daar nou nuwe hoop, nie net vir die buikongesteldhede nie, maar die manifestasie van outisme wat in die brein gesetel is.

Navorsers van die Arizona State University het verstommende syfers van beterskap in die jongste uitgawe van Scientific Reports gepubliseer. Die navorsing het behels om groot hoeveelhede van die mikrobiotika van “normale” mense in die buik van outismegevalle met buikprobleme oor te plant. Daar was dadelik verbeterings wat twee jaar later steeds waargeneem is en in sommige gevalle selfs verder verbeter het.

Hierdie navorsing is gedoen nadat dit aan die lig gekom het dat die mikrobiotika van outismegevalle, mense met parkinsons en alzheimers van ander mense sʼn verskil, en so ’n verband tussen die maag en brein bewys het.

Voor die studie het 83% van die gevalle waarmee geëksperimenteer is erge outisme gehad. Na die studie was dit net 17% wat as ernstig geklassifiseer is, terwyl 39% as lig of matig geklassifiseer kon word, en 44% se toestand was laer as die afsnypunt om as lig-outisties beskryf te word.

As ʼn mens na gesondheidseffekte kyk, is daar ʼn 58%‑afname te bespeur in simptome wat met maagprobleme verbind word. Dit is ook bevind dat die kinders betrokke by die studie “’n stadige maar bestendige verbetering in kernsimptome van outisme getoon het”, wat onder meer verband hou met taal, sosiale interaksie en gedrag.

Die outeurs van die navorsingverslag het wel erken die uitslae is gebaseer op ʼn baie klein kliniese studie met slegs 18 deelnemers. Verdere navorsing met groter kliniese studies sal gedoen moet word om die bevindinge te repliseer voordat die behandeling goedgekeur kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Woke ·

So basies, Andrew Wakefield was reg met sy ‘retracted’ studie. Ons weet al lankal daar is ‘n verband…

Anneli ·

Hmmmm……….. dit is net mooi presies wat Dr Andrew Wakefield 20 jaar terug gesê het!

Estelle ·

My heel eerste gedagte gewees. Nice of “settled science” to finally catch up.
Dr Wakefield help al dekades lank outistiese kinders om met “gut health” ñ verbetering in hul simptome te bring.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.