‘Berei voor’, waarsku WGO wêreld terwyl koronavirus nóg slagoffers eis

Lande is gemaan om nié onkant betrap te word deur die koronavirus nie.

Terwyl die dodetal in China weens die nuwe koronavirus Saterdag tot 259 gestyg het, het ʼn amptenaar van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gewaarsku dat ander lande hulle moet voorberei op “plaaslike siektebeheermaatreëls” sou die virus na nóg lande versprei.

Beijing het intussen skerp gereageer op ʼn besluit van die VSA wat toegang tot die land verbied aan enigiemand wat China die afgelope twee weke besoek het.

Die Australiese eerste minister, Scott Morrison, het soortgelyke maatreëls ingestel. Japan en Singapoer het dit reeds gedoen.

Suid-Korea en Indië het reeds honderde van hul burgers uit Wuhan, die stad midde-in die storm, gevlieg. Nagenoeg 50 miljoen mense daar word verhoed om die stad te verlaat terwyl streng maatreëls geld om die virus te probeer beheer. Diegene wat uit die gebied geneem is, word vir twee weke in kwarantyn gehou.

Indonesië stuur ook ʼn vliegtuig daarheen om sy burgers te help om die stad te verlaat.

Die getal bevestigde voorvalle trek nou by 11 791. Dis reeds meer as die 2003-’03-uitbreking van ernstige akute respiratoriese sindroom (Ears).

Die verspreiding van die virus die afgelope twee maande het die WGO genoop om dit tot ʼn wêreldwye noodtoestand te verklaar.

‘n Werker maak ‘n vloer buite die kwarantynsaal van ‘n Chinese hospitaal skoon. (Foto: ANI)

Dié aankondiging het die situasie van ʼn vroeëre waaksame houding verander na een waar regerings dringend gemaan word om hulle behoorlik voor te berei op die moontlikheid dat die virus na hulle lande kan versprei.

Gauden Galea, ʼn afgevaardigde van die WGO in Beijing, het gesê die meeste gevalle wat tot dusver aangemeld is, was onder mense wat China besoek het, óf hul familielede.

Die WGO tree op uit kommer oor armer lande wat dalk nié toegerus is om behoorlik op die siekte te reageer nie, het Galea gesê. Wanneer ʼn noodtoestand afgekondig word, volg gekoördineerde internasionale reaksie en kan meer geld en hulpbronne beskikbaar gestel word.

Die organisasie het in sy aankondiging gesê hy is veral bekommerd omdat die virus in sommige lande tussen mense oorgedra is en lande is gewaarsku om voorbereid te wees op plaaslike uitbrekings.

Die VSA het Vrydag ʼn openbare noodgesondheidstoestand afgekondig en pres. Donald Trump het ʼn bevel onderteken wat enige buitelanders, buiten die naaste familielede van Amerikaners en permanente burgers, wat China die afgelope 14 dae besoek het, verbied om die land in te kom. Wetenskaplikes sê dit is die virus se langste inkubasietydperk.

China het dié beheermaatreëls gekritiseer en sê dit is teenstrydig met die WGO se oproep op lande om weg te bly van ʼn reisverbod en “onvriendelike kommentaar”.

“Net soos die WGO voorgestel het dat ʼn reisverbod nie ingestel word nie, het die VSA die teenoorgestelde gedoen. Dis beslis nie ʼn gebaar van welwillendheid nie,” het Hua Chunying, ʼn woordvoerder van die departement van buitelandse sake, gesê.

Die WGO se sekretaris-generaal, Tedros Adhanom Ghebreysus, het gesê ondanks die noodtoestand is daar “geen rede vir maatreëls om onnodig met internasionale handel en reis in te meng nie”.

Die regerende Kommunistiese Party het die einde van die Chinese Nuwejaarsvakansie in die provinsie Hubei, waar Wuhan geleë is, uitgestel en ʼn beroep op die publiek gedoen om tuis te bly.

Reisigers dra gesigmaskers terwyl hulle wag op ‘n vlug vanaf die lughawe in Hongkong. (Foto: Ng Han Guan/AP)

China se plaaslike siektebeheermaatreëls het op 23 Januarie begin met die opskort van vlugte, busse en treine na Wuhan, ʼn nywerheidsentrum met nagenoeg 11 miljoen inwoners. Die maatreëls geld nou ook in sommige ander stede.

Die vakansie is China se besigste reistydperk en miljoene werkers gaan na verwagting ná die vakansie begin terugkeer.

Amerikaners wat uit China terugkeer, sal in die land toegelaat word, maar word eers getoets. Diegene wat uit die Hubei-provinsie terugkeer, sal 14 dae lank in kwarantyn moet wees. Van Sondag af gaan die VSA ook direkte vlugte uit China na sewe groot lughawens herlei sodat passasiers daar getoets kan word.

Delta Airlines en American Airlines het alle vlugte tussen die VSA en China opgeskort. Ander rederye, waaronder British Airways, Finnair en Cathay Pacific, het ook vlugte na China afgeskaal of gekanselleer.

Die Amerikaanse bevel volg op ʼn reiswaarskuwing aan Amerikaners om dit te oorweeg om China te verlaat. Japan en Duitsland het ook gewaarsku teen onnodige reise na China. Brittanje het dieselfde gedoen, maar Hongkong en Macao uitgesluit.

Sedert China die WGO laat in Desember oor die nuwe virus ingelig het, het 23 lande reeds voorvalle aangemeld. Wetenskaplikes is as’t ware gewikkel in ʼn stryd teen tyd om te verstaan presies hoe die virus versprei en hoe ernstig dit is.

Geen voorvalle is tot dusver in Suid-Afrika aangemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Snowball ·

In SA gaan hulle seker eers ‘n kommissie van ondersoek aanstel en ‘n taakspan aanwys wat vir twee weke lank vergader, sodat hulle kan uitvind wat die res van die wêreld reeds weet : Die ding is dodelik en versprei soos vuur en mense met verswakte immuniteit is in groot gevaar…….maar nou ja, teen die tyd dat ons bevoegde regering wakker skrik, sit Corona lekker agteroor en lag vir ons geskarrel. Waarom stop SA nie vlugte uit China nie? Ons het ‘n baie hoë risikofaktor vanweë Vigs en TB.

Niel ·

Bly om te sien daar word hard gewerk dat die corona virus nie versprei moet word nie. Tog is ek in ‘n mate bekommerd oor dat die virus dalk versprei mag word deur slagoffers van mensehandel wat nie getoets word of hulle die virus het. Maar ook sulke smokkelaars wat mense in geheim oor grense smokkel.

Strandloper ·

Hooplik kom daar darem so paar verdagte tenders uit vir die plant van beet, knoffel en olywe…en natuurlik vierwiel motorfietse..

Jan ·

Ag mense dis n klug en n foefie dis alles gestage met mooi fotokies om alaml skrik te maak en mooi akteurs… Dis alles emarking vir die entstof wat binnekort uitgerol gaan word…

Hannes ·

Ons hier in SA het ‘n baie groter virus probleem wat meer mense per dag eis as wat aan die korona virus dood is. Ongelukkig sal maskers ons nie help nie.

Jan ·

Is jy seker want ek sien nerens in enige hospitaal iemand met die virus nie en het ook al die jare nog niemand gesien met die virus nie…sal graag wil weet hoeveel slagoffers jy al persoonlik gesien het..of praat jy maar net agter almal aan soos n skaap…

Jaco ·

Die koronavirus veroorsaak sterftes by mense met onderliggende kondisies. Daagliks sterf daar gemiddeld 2000 mense aan n soort griep as ek n vergylikng mag tref ! Ek dink die wereld ruk hierdie so bietjie uit verband uit.

Miskruier ·

Dieselfde sal gebeur as met die Bek en Klouseer siekte……niks

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.