Berigte oor rocker se ‘dood’ saai verwarring

[OPVOLG] Tom Petty het Maandagaand om 20:40 (Dinsdagoggend 05:40, Suid-Afrikaanse tyd) in die UCLA Medical Center in Los Angeles gesterf. Lees die opvolgberig hier.

Tom Petty. Argieffoto: Amy Harris/Invision/AP

ʼn Berig deur die Amerikaanse nuusagentskap CBS News dat die wêreldbekende rocker Tom Petty gesterf het, het wyd verwarring gesaai nadat dit later aan die lig gekom het dat Petty se afsterwe nie bevestig kon word nie.

CBS News het op Twitter getwiet die Los Angeles-polisie (LAPD) het bevestig Petty, voorsanger van die Heartbreakers, het aan ʼn hartaanval gesterf. ʼn Berig op die nuusagentskap se webwerf het nie CBS News se bron aangehaal nie, maar het wel gesê dat die LAPD die nuus bevestig het.

Ongeveer ʼn uur later het Tony Im, ʼn woordvoerder van die LAPD, gesê die polisie kan nie bevestig of Petty wel gesterf het of wat sy huidige mediese toestand is nie. CBS News het daarna op hul Twitter-blad gesê Petty se dood kon nie bevestig word nie. Op sy webwerf het die nuusagentskap sy beriggewing aangepas om te sê Petty is glo steeds in ʼn kritieke toestand in ʼn hospitaal in Los Angeles.

CBS News het later getwiet Petty se dood kon nie bevestig word nie.

Reuters berig die webwerf TMZ.com het ook aanvanklik berig Petty is oorlede. Die webwerf het gesê Petty is bewusteloos in sy huis in Malibu aangetref nadat hy ʼn hartaanval gehad het en is na ʼn hospitaal gehaas. Die webwerf het beweer die besluit is later geneem om die masjiene wat Petty aan die lewe gehou het af te skakel.

Die jongste berig op TMZ.com lui egter dat Petty steeds in die hospitaal om sy lewe veg.

Daar is egter ten spyte van die regstellings deur talle internasionale en Suid-Afrikaanse media berig dat Petty oorlede is, met verskeie media wat op CBS News en TMZ.com se oorspronklike beriggewing staatmaak. Talle boodskappe wat Petty se “afsterwe” betreur is ook op sosiale media gedeel, onder meer deur bekendes soos John Mayer, Shania Twain en Jon Bon Jovi.

Volgens berigte is daar ook ʼn gedenkdiens by Petty se ster op die bekende Hollywood Walk of Fame gereël, maar is dit gekanselleer nadat dit aan die lig gekom het dat berigte oor Petty se dood nie bevestig is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Eish! Nog n nuwe kategorie nuus, buiten fopnuus is daar nou ook flopnuus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.