Bermuda-driehoek se jongste slagoffer ontkom ongedeerd

Een van die spanne wat ondersoek na die skade kom instel het kom by die Dawn aan terwyl ’n passasier toekyk. Foto: Twitter

Een van die spanne wat ondersoek na die skade kom instel het kom by die Dawn aan terwyl ’n passasier toekyk. Foto: Twitter

’n Luukse Noorweegse passasierskip, die Dawn, het Dinsdag kort ná sy vertrek uit Bermuda, ’n eiland in die Atlantiese Oseaan, op ’n rotsrif vasgesteek.

Die skip het glo ’n kragonderbreking gehad wat die stuurmeganisme beïnvloed het. Altesaam 2 675 passasiers wat ’n vaart van Boston na Bermuda meegemaak het, was aan boord toe die terugreis onderbreek is. Daar is ook 1 059 bemanningslede aan boord. Die skip is met hoogwater weer vlot gemaak, maar sou die nag voor anker bly.

Niemand is in die voorval beseer nie.

Die kragonderbreking is kort nadat die skip op die rotse geloop het herstel, en bedrywighede op die boot het normaal voortgegaan terwyl die vakansiegangers nuuskierig gekyk het hoe paddamanne die skade onder die watervlak ondersoek. Geen strukturele skade is blykbaar aangerig nie en geen olie of water het gelek nie.

Die boot sal nou eers deeglik in Bermuda ondersoek word voordat dit na Boston kan terugvaar.

Bermuda is die noordelike punt van ’n driehoek, met Puerto Rico en Florida as die ander twee punte, wat bekend staan as die Bermuda-driehoek. Deur die jare het etlike skepe en vliegtuie al spoorloos in dié gebied verdwyn.

Trouw, ABCNews, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.