Bernard, Bizos boaan lys bultende beursies

Elon Musk. (Foto: Brendan Smialowski / AFP)

As jy jou spaargeld in miljarde tel, is dit nie vreemd om binne ʼn oogwink die bruto binnelandse produk (BBP) van ʼn land soos Kambodja kwyt te wees nie. Vra gerus die Suid-Afrikaans gebore miljardêr Elon Musk, wie se spaarvarkie die afgelope jaar met $38,1 miljard tot “net” $191 miljard gekrimp het.

Musk se platter beursie is deels te wyte aan ʼn regsuitspraak vroeër vanjaar in die Amerikaanse staat Delaware, wat die Tesla-grootbaas van ʼn 2018-aandelevergoedingspakket van nagenoeg $50 miljard gestroop het. Dít, tesame met die feit dat Tesla se aandeelprys reeds met meer as 24% vanjaar geval het, het die Fransman Bernard Arnault weer die boonste podiumtrappie op Bloomberg se miljardêrindeks laat inneem met $200 miljard in die bank. Musk was Vrydagoggend 8 Maart in die derde plek.

Die Switserse tennisspeler Roger Federer en sy vrou, Mirka, saam met Franse sakeman, belegger en kunsversamelaar Bernard Arnault en sy vrou, Helene Mercier, by die bekendstelling van Louis Vuitton se lente/somerversameling in Parys. Foto: Francois Mori /AP

Arnault beheer die LVMH-sakeryk (ook bekend as Moët Hennessy Louis Vuitton) van 75 mode- en skoonheidshandelsmerke soos Dior. LVMH het die Amerikaanse juwelier Tiffany & Co. in 2021 vir $15,8 miljard verkry, wat glo die grootste luuksehandelsmerkverkryging ooit is.

Jeff Bezos, wat die e-handelreus Amazon in 1994 in sy motorhuis begin het en tans die tweede rykste op aarde is, blaas in Arnault se nek op $199 miljard. Bezos se rykdom het die afgelope jaar met $22,6 miljard toegeneem. Meta se 39-jarige Mark Zuckerberg lê vierde op Bloomberg se indeks, met $184 miljard in die bank, terwyl die gryser en wyser Microsoft-stigter en filantroop Bill Gates in die vyfde plek met $149 miljard in sy sak sit.

Bill Gates. (Foto: Kamil Zihnioglu/AP via wire.africannewsagency.com)

Suid-Afrikaners boer heelwat laer op dié lys, met die topposisie wat deur Johann Rupert en familie beklee word. Die Ruperts, wat in die 145ste plek lê, se rykdom word op $14 miljard gereken, wat steeds meer is as die BBP van lande soos Malawi, Mauritius en Namibië. Nicky Oppenheimer lê op sy beurt – met $10,4 miljard in die bank – in die 229ste posisie.

Die 92-jarige Nathan Kirsh, ʼn boorling van Swaziland wat sy fortuin hoofsaaklik te danke het aan die VSA-gebaseerde Jetro Holdings – wat die restaurantvoorraadwinkels Jetro Cash and Carry en Restaurant Depot besit – lê in die 314de plek met ʼn bankbalans van $8,38 miljard. Kirsh besit glo een van Londen se hoogste wolkekrabbers, Tower 42, wat die kantore van meer as 50 internasionale maatskappye huisves.

Mark Zuckerberg, stigter en hoof van Facebook. (Foto: Mandel Ngan/AFP)

Ofskoon die topposisies van die drie rykste persone gereeld wissel soos wat aandeelpryse skommel, het die netto waarde van die vyf rykste mense op aarde sedert 2020 met meer as 114% opgeskiet, aldus Oxfam se jaarlikse ongelykheidsverslag. Volgens Oxfam sal dit sowat 230 jaar neem om armoede uit te wis, terwyl die wêreld binne die volgende 10 jaar sy eerste biljoenêr (trillionaire) kan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.