Berugte dwelmbaas eindelik vasgetrek

Die dwelmbaas Dairo Antonio Usuga (50), bekend as “Otoniel”, is Saterdag in hegtenis geneem. (Foto: AFP / Colombia-polisie)

Een van die wêreld se mees berugte – en gevreesde – dwelmbase is Saterdag tydens ʼn massa-operasie in ʼn oerwoud in Colombia in hegtenis geneem.

Owerhede poog nou om Dairo Antonio Usuga (50), bekend as “Otoniel”, na die Verenigde State van Amerika (VSA) uit te lewer.

Volgens Diego Molano, minister van verdediging, is dít ’n algemene proses vir misdadigers wat transnasionale misdade pleeg.

Meer as 700 weermag- en polisiebeamptes en 18 helikopters was die afgelope naweek deel van die operasie om Otoniel vas te trek.

Molano het aan internasionale media gesê 30% van die groot hoeveelhede kokaïen wat van Colombia uitgevoer word, is aan Otoniel se sogenaamde Gulf Clan-dwelmkartel (die grootste in die land) toe te skryf.

Colombia is die wêreld se grootste vervaardiger van kokaïen met die VSA as die grootste koper.

Die VSA het ’n beloning van $5 miljoen (sowat R74 miljoen) uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming van Otoniel, wat as een van die “mees gevreesde mans in Colombia” beskryf word, sal lei.

Minstens 128 lasbriewe is vir sy inhegtenisneming in Colombia uitgereik – onder meer vir dwelmhandel en die werwing van minderjariges. Otoniel het glo ook meer as 200 lede van veiligheidsmagte vermoor en talle minderjarige meisies seksueel misbruik.

Pres. Ivan Duque van Colombia sê die inhegtenisneming is die grootste slag vir dwelmhandel in die land “in hierdie eeu”.

“Dit kan slegs met die neerlaag van die berugte dwelmbaas Pablo Escobar [in 1993 in Medellin, Colombia] vergelyk word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Grens ·

Ja, en die volgende een vat sy plek dadelik op. Solank daar ‘n mark is, sal iemand voorsien.

Swartskaap ·

Maak hom minister van polisie in suid afrika. Hy sal n beter werk as cele doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.