Berugte Kercher-moordenaar nou ’n vry man

Meredith Kercher is in 2007 in Italië vermoor. (Foto: Facebook)

Die enigste persoon wat skuldig bevind is aan die destydse moord op die Britse student, Meredith Kercher, in Italië is ’n vry man nadat hy vroeë vrylating toegestaan is.

Rudy Guede is in 2008 skuldig bevind aan die moord op Kercher nadat haar liggaam in November 2007 in ’n plas bloed in ’n kothuis in Perugia gevind is waar sy saam met Amanda Knox, haar Amerikaanse huismaat, gewoon het.

Kercher (21) is keelaf gesny en 47 keer met ’n skerp voorwerp gesteek.

Knox en haar Italiaanse kêrel, Raffaele Sollecito, is aanvanklik óók skuldig bevind aan die moord voordat albei jare later op appèl vrygespreek is.

Guede, wat destyds deur DNS-bewyse met die moordtoneel verbind is, is ’n paar weke ná die moord in Duitsland in hegtenis geneem en ná ’n vinnige verhoor in Italië in Oktober 2008 tot 30 jaar vir moord en seksuele aanranding gevonnis.

Argieffoto van Rudy Guede. Guede is destyds skuldig bevind aan die moord op die Britse student, Meredith Kercher. (Foto: Federico ZIRILLI / AFP)

Sy vonnis is later tot 16 jaar verminder nadat Guede appèl aangeteken het. Guede kon egter nie daarin slaag om sy vonnis te laat hersien nadat Knox en Sollecito vrygespreek is nie.

Knox, ’n 20-jarige student van Seattle ten tyde van die moord, het vier jaar van haar vonnis van 26 jaar uitgedien voordat sy twee keer vrygespreek is – eers in 2011 en toe weer in 2015 ná ’n herverhoor.

Sollecito, wat 23 jaar oud was ten tyde van die moord en destyds net ’n week lank met Knox uitgegaan het, is ook in 2011 en in 2015 vrygespreek.

Argieffoto van Amanda Knox.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
modiglianigirl

Sal ons ooit die waarheid weet?

Pietertjie

Hy was vir veertien jaar deur belastingbetalers onderhou. Nou moet hy weer vir homself sorg.

piet

Hoe werk die mense se regstelsel dan? Klomp mense foutiewelik skuldig bevind. Wat ‘n gemors.

Niklaas

Ek dink Meredith was deur aldrie vermoor in dieselfde omstandighede daardie aand van die moord. Amanda en Raffaele het skatryk ouers en Rudy is brandarm. Raai wie beland in die tronk vir 16 jaar straf en wie gaan vrygespreek huis toe ?