Berugte ‘Yorkshire Ripper’ dood weens Covid – ondersoek

Peter Sutcliffe, die Britse reeksmoordenaar wat bekend gestaan het as die Yorkshire Ripper. (Foto: Universal History Archive/ Universal Images Group via Getty Images)

Die Britse reeksmoordenaar bekend as die “Yorkshire Ripper” is weens Covid-19 dood nadat hy self-isolasie-riglyne in die tronk verontagsaam het, is in die ondersoek na sy dood bevind.

Peter Sutcliffe het tussen 1975 en 1980 altesame 13 vroue vermoor en was 78 jaar oud toe hy in November verlede jaar in die tronk dood is. Hy is in 1981 skuldig bevind aan dié moorde, asook op sewe ander aanklagte van poging tot moord ná ʼn skrikbewind wat jare later steeds op die land se geheue ingeprent is.

Sutcliffe is 20 lewenslange vonnisse opgelê – gewoonlik 15 jaar of minder in die Verenigde Koninkryk (VK) – maar die hof het beveel dat hy minstens 30 jaar agter tralies moet deurbring. In 2010 het ʼn regter in die land se hooggeregshof egter bevind dat hy nooit vrygelaat moet word nie.

Sutcliffe het positief vir Covid-19 getoets nadat hy die gevangenis se riglyne oor beskerming teen die koronavirus verontagsaam het, het Lee Drummond, goewerneur van die tronk, gesê.

Drummond het gesê kwesbare gevangenes is gewaarsku teen die gevare van Covid-19 en daar was verskeie opsies beskikbaar om hulle teen infeksie te help beskerm. Dit het ingesluit afsondering van ander gevangenes tydens etenstye.

Clive Bloxham, die patoloog, het via ʼn videoskakel by die geregtelike doodsondersoek in Durham, in die noordooste van Engeland, getuig en gesê die nadoodse ondersoek het gewys Sutcliffe het “geweldige swaar longe” gehad – ʼn algemene newewerking van die koronavirus.

Die infeksie was die oorsaak van Sutcliffe, wat boonop aan ʼn hartsiekte en diabetes gely het, se dood. Geen gemene spel word vermoed nie.

Sutcliffe, ʼn voormalige vragmotorbestuurder, het aan paranoïese skisofrenie gely toe hy die misdade in die noorde van Engeland gepleeg het en het aanvanklik sy tronkstraf in ʼn psigiatriese eenheid met streng sekuriteit uitgedien. Hy is later na ʼn tronk in die noordooste van Engeland oorgeplaas nadat daar bevind is sy geestestoestand is bestendig genoeg.

Die soektog na die “Yorkshire Ripper” was een van Brittanje se grootste polisiemislukkings en tekortkominge in die ondersoek het gelei tot ʼn ingrypende opknapping van die manier waarop  ingewikkelde misdaadondersoeke gedoen moet word.

Sutcliffe het die polisie jare lank ontwyk, al is hy etlike kere deur die loop van die ondersoek ondervra. Hy het in 1981 skuld beken aan die moorde nadat hy in hegtenis geneem is omdat hy gesteelde nommerplate op sy motor gebruik het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

Immagine dieselfde erkenning van n disfunksuonele stelsel EN aanpassing gebeur hier? Droom ek nou hardop….

Misky

As hy in SA was, sou hy lankal op mediese parool vrygelaat word met sy werklike hartprobleme. Nie soos ander wat dit opmaak, lieg en selfs kamma geheim hou nie

Francois

Karma – Al is dit bietjie laat?

JohanR

Daar is maar net donker mense in die wereld,,,,,,

Hasie

Tata Hasie Hasie Good luck on the other side.