Beseerde olifantkalf gered

Die trop olifante migreer sedert Maart verlede jaar. (Foto: AFP)

ʼn Beseerde olifantkalf wat agtergelaat is deur ʼn trop migrerende Asiese olifante in China is Dinsdag deur weldoeners gered.

Maroela Media het vroeër berig dat ongeveer 17 olifante meer as 500 km van ʼn natuurreservaat in China migreer het. Die trop het sy reis in Maart verlede jaar, tydens die Chinese lente, begin en sedertdien winkels geplunder, miljoene rande se gewasse vernietig en duisende inwoners uit hul huise gejaag.

Volgens Bao Mingwei, direkteur van die Asian Elephant Breeding and Rescue Centre, is die beseerde kalf gedurende dié migrasie gebore.

Plaaslike inwoners het die olifantkalf Saterdagoggend alleen op ʼn teeplantasie gesien sukkel. Dié 180 kg-dier het glo ʼn beenbesering opgedoen wat reeds ernstig besmet was.

“Ons het die kalf anti-bakteriese en anti-inflammatoriese middels gegee, want die wond het baie sleg gelyk. Dit is moontlik dat rottangstekels die kalf geskaaf het waarna die skaafplek toe gaandeweg besmet geraak het.”

Die olifant is na die reddingsentrum geneem en Mingwei het bygevoeg dat die dier mettertyd ten volle sal herstel.

Wetenskaplikes is steeds stomgeslaan oor die trop se skielike besluit om hul tuiste by die Xishuangbanna- nasionale natuurreservaat te verlaat. Dié migrasie het egter die gevare van habitatverlies in China beklemtoon.

China se olifantbevolking het oor die afgelope drie dekades verdubbel tot meer as 300 olifante. Terselfdertyd het hul habitatte in dié tydperk met byna tweederdes gekrimp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.