Betaalde verifiëring kom vir Facebook, Instagram

(Foto: Timothy Hales Bennett/Unsplash)

Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook en Instagram se moedermaatskappy, Meta, het Sondag aangekondig dat ’n betaalde intekeningdiens, wat gebruikers toelaat om hul rekeninge te verifieer, binnekort vir die sosialemediaplatforms geldig sal wees.

Meta Verified, wat hierdie week vir die eerste keer in Australië en Nieu-Seeland bekendgestel word, en binnekort ook in ander lande beskikbaar gaan wees, sal gebruikers toelaat om hul Facebook- en Instagram- rekeninge met hul identiteitsdokumente (ID) te verifieer.

“Die inisiatief is ontwerp om die egtheid en sekuriteit van ons dienste te verskerp. Anders as Twitter se soortgelyke diens, vereis Meta Verified dat gebruikers hulle ID vir identiteitstawing verskaf as deel van aanmelding.

“’n Blou kenteken sal op geverifieerde rekeninge verskyn, wat bykomende nabootsingsbeskerming verseker en direkte toegang tot kliëntediens bied,” het Zuckerberg bygevoeg.

Die intekeningplan sal verbruikers $11,99 (ongeveer R215) per maand uit die sak jaag as dit op die web gekoop word, en $14,99 (sowat R271) per maand as dit deur Facebook of Instagram se iOS-toepassing gekoop word, wat Apple se 30%-kommissie weerspieël.

Zuckerberg verduidelik egter dat daar geen veranderinge aan rekeninge op Facebook en Instagram sal wees wat reeds geverifieer is nie.

“Slegs gebruikers wat ouer as 18 is, sal toegelaat word om in te teken.”

Elon Musk se aanvanklike poging om ’n soortgelyke diens by Twitter van stapel te stuur, het verlede jaar misluk met ’n vlaag valse rekeninge wat adverteerders afgeskrik het, en twyfel oor die platform se toekoms laat ontstaan het.

Musk is gedwing om die poging op te skort voordat hy dit in Desember weer probeer het.

Meta se aankondiging oor die betaalde intekeningdiens kom na die sosialemediareus vir die afgelope jaar met finansiële probleme sukkel en in November aangekondig het dat 11 000 werknemers (13%) afgedank gaan word – die meeste afdankings sedert die maatskappy se ontstaan.

Die afleggings is deel van ’n golf afleggings wat die afgelope paar maande deur die bestuur van Silicon Valley aangekondig is.

Meta is ook onder druk om ’n groot waagstuk, Metaverse, te laat realiseer – ʼn wêreld van virtuele realiteit – wat volgens Zuckerberg “die nuwe internet” sal wees.

Beleggers het Meta verlede jaar gestraf deur die maatskappy se aandeelprys met ’n verstommende twee derdes oor 12 maande te laat daal. Die maatskappy het egter vroeg in 2023 reeds begin herstel.

Die maatskappy het ook vroeër vandeesmaand sy eerste jaarlikse daling in verkope sedert sy bekendstelling in 2012 gerapporteer, maar die daling was minder ernstig as wat verwag is.

Zuckerberg sê hy bly optimisties oor Meta se toekoms.

“Die aantal daaglikse gebruikers op Facebook het onlangs vir die eerste keer die teiken van twee miljard bereik, en daar lê nog groot dinge vir ons voor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

SwartBees ·

Raai wie gaan my binnekort verloor wanneer die instelling inwerking tree.

Wonder ·

niks is verniet nie… gelukkig het ek nou al.9 jaar nie meer facebook nie iets wat my glad nie interesseer nie…

Grens ·

Dit is ‘n goeie ding, sal help om van die scammers bietjie te sif.

Robert ·

Scammers sal manire kry om dit te omseil… Nature of the beast.

Mnr De Beer ·

Ryk mense wat daarvan hou om so te spog op sosiale media gaan nou bietjie meer moeite moet doen om vir arm mense te wys hoe wonderlik hulle lewe is. Cheers Facebook.

kommentaar ·

Skies vir die Dom vraag. So beteken dit ek moet maandeliks vir facebook betaal?

Robert ·

Nope… Nope en nog ‘n keer Nope, hulle het nie my selfoon of ID nommers nodig nie.

Schalk ·

Ek doen nie Instagram nie en vind myself al hoe minder op Facebook, ek dink dit is tyd om die kanselasie knoppie te druk. Almal skep en die verbruiker word al hoe armer, tyd dat die mense saam staan en hierdie geld wolwe laat verstaan dat genoeg nou genoeg is. Hy sal vinnig die boodskap kry indien n paar miljoen mense wereldwyd kanseleer, sy aandeelhouers sal hom vinnig in die bek ruk.

Lillian ·

So jy sal moet betaal om gemuilband te word elke keer as jy iets sê wat die “fact checkers” nie van hou nie. Dank vader ekt Facebook ge”drop”!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.