
Polisiemagte gebruik beamptes wat ʼn uitsonderlike vermoë het om gesigte te onthou en ʼn bogemiddelde aanleg het om dié mense te identifiseer. (Foto: pixabay)
Talle mense beskou kunsmatige intelligensie (KI) en gesigherkenningsagteware as die toekoms van misdaadbekamping wêreldwyd. Maar die Britse polisie sê dit moet saam met tradisionele opsporingsmetodes gebruik word – insluitend die gebruik van sogenaamde super-herkenners.
Polisiemagte landwyd gebruik beamptes wat ʼn uitsonderlike vermoë het om gesigte te onthou en ʼn bogemiddelde aanleg het om dié mense te identifiseer. Net sowat 1% van die bevolking het egter dié “superkrag”, sê Tina Wallace, ʼn waarnemingskenners by die Thames Valley-polisie.
Haar span het in 2017 begin om spesialisbeamptes te werf en het nou al sowat 20 van dié kundiges. Dit sluit in Alex Thorburn, ʼn beampte met 17 jaar ervaring.
“Ek was nog altyd goed met gesigte, so toe hulle ʼn kennisgewing oor die toetse uitstuur, het ek dit gedoen!” vertel Thorburn.
“Ek is foto’s gewys, tussen 10 en 30 jaar oud, van tien mense. Ek moes hulle in ʼn skare in ʼn winkelsentrum vind.
“Ek het almal opgespoor, maar hulle het baie anders gelyk as in die foto’s. Dit was nogal interessant.”
Die span werk op skerms met beeldmateriaal van veiligheidskameras, maar word ook in die veld uitgestuur.
Vir die kroningsplegtigheid van koning Charles III is Thorburn by Windsor-kasteel, wes van Londen, tussen die skare ingestuur. “Ons is ontplooi om te bepaal of daar enige mense met ʼn obsessie oor die koninklike familie teenwoordig is wat dalk probleme kan veroorsaak. Gelukkig was daar nie,” vertel Thorburn.
Mike Neville, wat die eerste span super-herkenners by Londen se Metropolitaanse Polisie op die been gebring het, sê dit is ʼn goedkoop en doeltreffende manier om misdaad te pak. Hy het reeds afgetree en bedryf deesdae die vereniging Super Recognisers International wat homself beskryf as die “wêreldleiers in menslike herkenning”.
Sukses

Sogenaamde super-gesigherkenners gebruik kringtelevisie-beeldmateriaal om mense uit te wys. (Foto: Justin Tallis/AFP)
Een van die eerste groot deurbrake van 2011 was tydens grootskaalse plundering in Londen wat veroorsaak is deur die dood van ʼn man wat deur die polisie geskiet is. Die polisie het deur sowat 200 000 uur se veiligheidskamera-beeldmateriaal gesif.
“Twintig beamptes het 600 van die Londen-betogers geïdentifiseer,” sê Josh Davis, ʼn professor in toegepaste sielkunde by die Universiteit van Greenwich.
Een beampte, wat ʼn kenner oor bendes was, het ʼn verstommende 180 oortreders uitgewys deur die beelde te ontleed. Sommige van hulle het hy nog nooit eens in lewende lywe gesien nie. Anders se gesigte was gedeeltelik verberg, sê Davis, wat ook ʼn lid van Neville se vereniging is.
Die Thames Valley-polisie bedien sowat 5 700 km² wes en noordwes van Londen met ʼn bevolking van 2,34 miljoen mense.
Hulle ontplooi “super-herkenners” op spesifieke tye buite kroeë en nagklubs om diegene wat aan die polisie as seksuele aanranders bekend is, uit te wys.
“Ons gebruik polisiebeamptes in burgerlike drag en hulle is op die uitkyk vir spesifieke gedrag,” verduidelik Wallace, ʼn beampte met 26 jaar se ondervinding by die polisie se opleidingsentrum naby Reading.
“Wanneer ons aanvallende gedrag sien, roep ons die hulp van ʼn beampte in uniform in om dit te keer.
“Twee uit elke vyf mans wat ons voorkeer, het vorige veroordelings vir verkragting of ernstige seksuele aanranding. Ons het die afgelope drie jaar 520 van hulle gestuit.”
Geen mededinging
Soos KI en gesigherkenningstegnologie vorder, moet menslike vermoëns nie afgemaak word nie, sê Neville.
“Dit is nie mededinging met gesigherkenning nie. Dit kan saam gebruik word. KI is goed met hoëgehalte foto’s wat van voor af geneem is (soos paspoortfoto’s).
“Mense is beter met foto’s van laer gehalte, wanneer die gesig teen ʼn hoek gesien word of gedeeltelik bedek word deur ʼn sonbril of masker.
“Wees ook bedag daarop dat KI-identifikasie ingevolge Britse en EU-wetgewing deur ʼn mens bevestig moet word alvorens ʼn inhegtenisneming gedoen word. Die meeste mense in ʼn demokrasie sal gelukkiger wees as die besluit om iemand aan te hou deur ʼn mens, eerder as ʼn rekenaar, geneem word.”
Neville sê daar is ʼn groeiende vraag na die dienste van super-herkenners, veral van polisiemagte in Duitsland en Australië.
Davis het ʼn basiese aanlyn toets van 14 punte opgelaai vir enigiemand wat nuuskierig is om vas te stel of hulle die vermoëns het wat vereis word van ʼn super-herkenner.
“As jy minder as 10 of 12 het, gaan jy nie ʼn super-herkenner wees nie.
“Maar as jy 14 punte kry, bel my asseblief …”